Is dit moontlik dat ‘n klip wat by Blombos naby Stilbaai opgetel is, ‘n versteende voet kan wees? Hoekom word troetelvoëls en pluimvee se vlerke gepen en hoe word dit gedoen? En hoe ontstaan ‘n vuur-tornado?
Taaldinge
Die verband tussen ruimskoots en seilvaart word verduidelik en daar word ook gepraat oor houtpopgerus.
Oggenddiens
Ds. Jannie Pelser van die Rant-en Dal Gemeenskapskerk, Krugersdorp.
Naweekaktueel
Die jongste motornuus.
Islam in Fokus
‘n Gespreksprogram vir Moslemluisteraars.
Radioteater
Offer is ‘n drama wat in die koudste maand in Suid-Afrika uitgesaai word. Die koue word as leitmotief kundig deur die dramaturg aangewend. Errol Hendriks (Dean Balie) en Japie van Blerk (De Klerk Oelofse) se lewensverhale speel af teen ‘n koue tydperk in menseverhoudings en die geskiedenis van Suid-Afrika. Japie en sy suster Rachel (Hannah Borthwick) trotseer as kinders die koue, aangevuur deur hul pa Marinus (Johann Nel) en afsydige ma Sandra (Susanne Beyers) in ‘n snelveranderende land waar Errol, die bomplanter, na jare terugkeer vir heling en toevallige kennismaking met die verskrikte Japie, wat vyf swartmense afgemaai het en dan op ‘n eetstaking gaan. Lourens de Waal (Deon Lotz) is as joernalis die blinde Errol se stok. Hy lei hom deur blootstelling aan die Van Blerk-gesin se situasie na insigte en versoening, maar vir beide partye met erge verliese en diep opofferings. Die regisseur Johan Rademan gebruik die sleutels van Racheltjie de Beer en Eugène Marais se gedig WINTERNAG om stuwing te gee aan die koudheid wat die drama vra en verg. Dit is ‘n filosofiese drama wat jou peinsend sal laat oor wat was, wat is en wat nooit weer behoort te gebeur nie.
Skrywers en Boeke
Die verhoogstuk Oskar en die pienk tannie (met Sandra Prinsloo), ryg steeds die verhoogpryse in. Kobus Burger gesels met prof. Naomi Morgan, die vrou wat gesorg het dat dié boek uit Frans in Afrikaans vertaal word. Ilse Salzwedel gesels met Petrovna Metelerkamp oor selfpublikasie. Johan Myburgh gesels oor wêreldletterkunde, onder meer oor die wenner van ʼn internasionale prys vir fiksie deur vroueskrywers.
Geestesgesondheid
Louis en Lise stel jou voor aan Christelle Bekker. Sy is ‘n wonderlike voorbeeld van iemand wat die lang pad saam met Major Depressie suksesvol stap. Depressie is die siekte van ons tyd, maar steeds verstaan mense nie die belang van behandeling nie. Enige iemand kan met kennis en selfinsig leer om ‘n vol en ryk lewe saam met depressie te leef en Christelle sal jou inspireer om die nodige stappe te doen.
Vers en Klank
NP van Wyk is 107 jaar gelede op Sutherland gebore. Om sy geboortedag te vier, lees Van Wyk Louw en Anna Neethling-Pohl drie uittreksels uit Raka.
Kommentaar
Ontleders neem die week se nuusgebeure in oënskou.