Sterre en Planete

Een van die staatmaker ruimteteleskope, die Herschel teleskoop, moes onlangs afgeskakel word omdat sy stikstof verkoelingsmiddel opgeraak het. Prof. Matie Hoffman van die Universiteit van die Vrystaat en die Boyden-sterrewag vertel van die werk wat die teleskoop gedoen het. Hennie Maas praat ook met Kobus Olckers, ons ruimteweervoorspeller in Florida, Amerika.

Rand en sent

Hoe gemaak as jy skielik nie meer ʼn inkomste het nie, as jy die slagoffer geword het van personeelvermindering of as jy weens ongeskiktheid nie meer kan geld verdien nie? Helen Ueckermann praat met Nico van Gijsen van Finlac oor inkomstebeskerming en met Bev Kelly van Bright Media oor kredietversekering vir verbruikers.

Ons en die Onderwys

Volgens navorsing dra armoede grootliks by tot leerders se swak vordering op skool. Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement se uitgebreide voedingskema poog egter om dié situasie om te keer.

Hoe verklaar jy dit?

Hoekom word die aarde nie groter as die vastelande uitmekaar beweeg nie? Hoe ver beweeg ons per dag deur die ruimte as die aarde om sy eie as beweeg? En op grond waarvan is die Suid-Afrikaanse geoloog, Alexander du Toit, vroeg in die vorige eeu internasionaal vereer?

Taaldinge

Waar in die woord val die klem – die eerste deel of die tweede deel? Wanneer gebruik jy mens en wanneer persoon?

Oggenddiens

Ds. Terrance Wessels van die Verenigende Gereformeerde Kerk, Ennerdale.

Radioteater

‘n Middeljarige aktrise beland in die hospitaal ná ‘n mislukte selfmoordpoging. Hier deel sy haar lewensverhaal, anekdotes oor haar loopbaan en gebeure uit haar kinderjare met ‘n jong psigiater. Wilna Snyman het in 1991 die Radio Artes gekry vir beste spel deur ‘n aktrise in ‘n dramatiese werk vir haar vertolking van die aktrise teenoor Nic de Jager.