Skuif die Steenbok- en Kreefskeerkringe? Dit is een van die vrae wat beantwoord word deur prof. Matie Hoffman en Willie Koorts. Willie gee ook terugvoer oor die vuurbal wat onlangs oor die Kaap gesien is.
Islam in Fokus
‘n Gespreksprogram vir Moslemluisteraars.
RSG Dokumentêr
Waar is die dae toe Groep 2 in die Beatles se Abbey Road-ateljees kon opneem? Of toe kunstenaars soos Gé Korsten sommer saam met ‘n hele simfonieorkes kon plate sny? Derrich Gardner praat met mense agter die skerms wat konserte reël, kunstenaars bespreek vir optredes en moet seker maak dat almal weet wie het ‘n nuwe CD op die rakke. Hoe het die musiekbedryf verander en hoe hou dit kop bo water in ‘n wankelende ekonomie?
Skrywers en Boeke
Kobus Burger, hoof van drama by RSG, gesels met die jeugboekskrywer Derick van der Walt oor sy jongste jeugboek, HOOPVOL. Dit het in 2012 die silwer prys vir Sanlam se kompetisie vir jeuglektuur gewen. Terrance April vertel meer van die skrywer Grace Ogat. Chanette Paul is een van die produktiefste skrywers in Afrikaans. Sy skryf sowel spanningsverhale as liefdesverhale. Christelle van Tonder het met Chanette gesels. Die 90-jarige skrywer, Elsa Joubert, vertel wat sy graag lees. Die gewilde avontuurverhaal-skrywer, Doc Immelman, is op 8 Maart op 84-jarige ouderdom in Windhoek oorlede. In 2009 het die ouduitgewer, Leon Rousseau, ‘n telefoniese onderhoud met Doc Immelman gevoer. Hierdie onderhoud uit die argiewe word nou weer uitgesaai.
Geestesgesondheid
Christelle Webb-Joubert gesels met dr. Michiel van der Merwe van Stabilis oor die terapeutiese uitwerking van gebed.
Vers en Klank
Shirley Ellis lees verse uit Susan Smit se debuutbundel IN DIE AFWESIGHEID VAN SIN.
Kommentaar
Ontleders neem die week se nuusgebeure in oënskou.
Kruis en dwars 17 Maart 2013
Die spreekwoord sê die keuses wat jy maak bepaal die lewe wat jy lei. Johann Symington gesels met sy gaste oor besluitneming en hoe om die emosie uit belsuitneming te haal veral as dit by geloofsake kom.
Rand en sent
Daar is in die afgelope tyd veel gepraat oor die mishandeling van vroue. Oor finansiële mishandeling word daar egter minder gepraat. Tog word talle vroue aan dié soort mishandeling onderwerp. Helen Ueckermann praat met die Johannesburgse sielkundige Cecile Gericke oor wat finansiële mishandeling behels, hoe ’n vrou daarin kan beland en hoe sy weer haar finansiële selfrespek en onafhanklikheid kan terug kry.
Ons en die Onderwys
Anthea Adams het gaan inloer by die Verf- en Vers werksessies wat deel was van die Universiteit van Stellenbosch se Woordfees. Sy’t daar kennis gemaak met ywerige leerders wat hard aan die oefen was vir die WOW-Spelkompetisie se uitdunrondes later vanjaar. Dié kreatiewe projekte is deel van die universiteit se jaarlange Woorde Open Wêrelde (WOW)-Projek.