Nic de Jager lees gedigte van Breyten Breytenbach en Amanda Strydom en Lize Beekman sing toonsettings van sy gedigte.
Radioteater
Jonas is ’n mens-dier wat op ’n dag in die water by ’n ou walvisstasie verskyn en onder ’n klein vissersgemeenskap aan die Kaapse Weskus kom woon om hulle te waarsku dat hulle besig is om die visbronne uit te put. Boeta, verteenwoordiger van die totale vissersgemeenskap, glo dat die kwotastelsel teen hulle diskrimineer en hulle dwing om onwettig op te tree, deur byvoorbeeld in verbode broeigebiede te gaan visvang. Uiteindelik word die konflik tussen Bewaring en Benutting op die spits gedryf wanneer Boeta sy woede en frustrasie nie meer kan beteuel nie. Daar is interessante parallelle met die Christusverhaal, wat meebring dat die verhaal nie net tot omgewingsbewustes sal spreek nie. Die spelers is Travis Snyders, Theresa Cloete, Royston Stoffels, Charlton George, Marlo Minnaar en Riaan Visman.
Skrywers en Boeke
Die Melville Poësiefees vind die naweek in Johannesburg plaas. Die digter en joernalis, Hans Pienaar vertel meer daaroor. Terrance April vertel meer oor die skrywer, Ken Saro-Wiwa. Lapa-uitgewers het ‘n grappiesboekie uitgegee wat saamgestel is uit Upingtonse skoolkinders se bydraes. ‘n Paar van die bydraers vertel hulle grappies wat in die boekie ingesluit is. Salman Rushdie se jongste roman, Joseph Anton, het pas verskyn. Darryl Accone, boekeredakteur van die Mail & Guardian vertel meer daaroor en hoe hy Rushdie in gesprek ervaar het. Dan gesels Joan Hambidge met Francis Galloway, ‘n kenner van Breytenbach, oor Breytenbach se verhouding met sy uitgewers.
Geestesgesondheid
Christelle Webb-Joubert gesels met dr. Gerhard Grobler oor yuppie-griep en wat daarvan geword het.
Vers en Klank
Bernard Odendaal lees gedigte wat vir hom betekenis het asook enkele van sy eie verse.
Skrywers en Boeke
Corina van der Spoel praat met Leon Rousseau, skrywer van die Storieman-stories, oor die heruitgawe van die boek en sy Dr. Seuss-vertalings, of herdromings, soos hy dit noem. Terrance April vertel meer oor die Kaapstadse skrywer, Patricia Schonstein Pinnock. Dan gesels Willie Burger in sy gereelde gesprekke oor die aard en kuns van die roman oor genrefiksie en die rol wat plot speel. In die laaste deel van die program gesels Corina van der Spoel met die Nederlandse joernalis, Fred de Vries wat al 20 jaar lank in Suid-Afrika woon, oor sy boek oor Afrikaners, RIGTINGBEDONNERD: AFRIKANERS NA 1994.
Geestesgesondheid
Christelle Webb-Joubert gesels met Corrie Davidson, ‘n kliniese maatskaplike werker, oor seksverslawing.
Vers en Klank
Adam Small lees self van sy eie werke. Dit is argiefopnames, maar Small het wel onlangs op die onderskeie bundels waaruit die werk kom, kommentaar gelewer.
Sterre en Planete
Die span praat oor snelhede in die ruimte en watter tipe motore gebruik word om die snelhede te bereik. Luister na ‘n uittreksel oor die ontwikkeling van ‘n reaksiemotor wat ‘n vliegtuig in staat sal stel om Mach 5 te bereik.
RSG Dokumentêr
Die aankondiging vroeër vanjaar dat die ontwykende Higgs Boson-deeltjie deur wetenskaplikes by die Groot Hadron versneller by CERN in Switserland waargeneem is, het die fokus weer op kwantumfisika of kwantummeganika geplaas. Wat is kwantummeganika en hoekom is dit belangrik dat ons van al hierdie vreemde subatomiese deeltjies moet weet waaruit die heelal bestaan?