Hennie Maas gesels met prof. Matie Hoffman en Willie Koorts oor wat met twee sterrestelsels gebeur wanneer hulle bots. Dit is wat voorspel word met Andromeda en ons melkweg wat nader aan mekaar beweeg. Daar is ook klanke van die aarde se magnetosfeer wat deur nuwe satelliete opgeneem is.
RSG Dokumentêr
‘n Sonderlinge blik op die leefplek van ‘n Topnaar net buite Walvisbaai in die Namib, naby die mond van die Kuisebrivier. Johan Rademan het saam met John Reynders van Photoventure met ‘n viertrekmotorfiets die duine aangepak om by Jackie Topnaar uit te kom. In ‘minder as ‘n halfuur breek ‘n nuwe horison oop van ‘n broos kantelende wêreld van die Topnaars.Hoor hoe hulle oorleef op Narras en Breakwater en waar die naam Topnaar vandaan kom.
Skrywers en Boeke
Afrikaans word al jare lank aan universiteite in Pole gedoseer. Prof. Jerzy Koch, wat homself Afrikaans leer praat het en tans op besoek in Suid-Afrika is, vertel waarom Poolse studente Afrikaans wil studeer. Terrance April vertel meer oor die skrywer Leopold Senghor. Anzil Kulsen is ‘n skrywer van Upington. Haar jeugroman, Zita, word wyd in skole gelees. Dié storie oor ’n meisie uit ’n arm bruin gesin wat in ’n nuwe skool tussen ’n klomp wit meisies beland, is ‘n verhaal oor aanvaarding van jouself en van ander. Kulsen lees uit die boek voor en vertel meer oor die boek waaraan sy tans werk. Corina van der Spoel kyk ook na die bewaring van Suid-Afrika se literêre erfenis by die National English Literary Museum in Grahamstad. Michael Titlestad, voorsitter van die raad van NELM, vertel meer oor die probleme rondom die bewaring van belangrike literêre dokumente en oor ‘n hofgeding waarby die museum betrokke is.
Vers en Klank
Nic de Jager lees verse uit Breyten Breytenbach se bundel DIE BEGINSEL VAN STOF.
Sterre en Planete
Klippe wat waarskynlik van Mars afkomstig is, word op die aarde gekry. Prof. Marian Tredoux van die Departement Geologie aan die Universiteit van die Vrystaat vertel hoe geoloë weet dat die klippe van die rooi planeet afkomstig is. Daar is ook inligting oor hoe mens weet of ‘n krater a.g.v. ‘n impak ontstaan het of as gevolg van ‘n vulkaniese uitbarsting.
Islam in Fokus
‘n Besprekingsprogram vir die Moslemgemeenskap.
RSG Dokumentêr
Eerste offisier Fatima Jakoet wou van kleins af ‘n vlieënier word. Sy het haar droom verwesenlik nadat sy ‘n BTech-graad in Chemie behaal het. Vandag vlieg sy vir die Suid-Afrkaanse Lugdiens. Hierdie is die verhaal van ‘n Moslemvrou in ‘n manswêreld.
Skrywers en Boeke
Daar is ‘n regstreekse oorskakeling na die toekenning van die Hertzogprys aan die digter en dramaturg Adam Small vanaf die HB Thomteater op Stellenbosch. Small se vrou Rosalie sal die toekenning in ontvangs neem. Daarna saai ons ‘n eksklusiewe onderhoud uit wat RSG se Johan Rademan met Adam Small gevoer het waarin Rademan hom pols oor die 1965-drama, Kanna hy ko hystoe, se onderliggende boodskap van ‘n terugkoms op vele vlakke. Joan Hambidge gesels ook met die digter en romanskrywer, Piet van Rooyen, oor sy nuwe roman, Rodriguez. Die romanskrywer hou nie van etikette nie, hy glo die storie is belangriker as die taal en dat hy hierdie roman op die werklikheid gebaseer het. Hy lees ook ‘n gedig uit sy bundel, Kwansuis, voor. In die laaste deel van die program vertel Terrance April ons in sy gereelde bydrae oor Skrywers uit Afrika, meer oor die Johannesburgse digter, Sipho Sepamla en daarna luister ons na die letterkundige Willie Burger wat gesels oor karakters in romans en of dit belangrik is vir die leser om te identifiseer met ‘n karakter.
Geestesgesondheid
Christelle Webb-joubert gesels met Jeanne van den Bergh oor die rouproses van ‘n ouer wat ‘n kind opgee vir aanneming.
Vers en Klank
Loftus Marais lees verse uit sy bundel KRY MY BY DIE GEWONE PLEK AGUUR.