RSG Dokumentêr

Theo Erasmus het op 6 Mei vanjaar 70 jaar oud geword en hy speel steeds lekker akkordeon. Agter hom lê dekades van musiek en prestasies. Hy het 57 langspelers en CD’s die lig laat sien, het jare lank gedien as Bestuurder: Ligte Musiek by die SAUK, het saam met talle kunstenaars opgetree, baie kenwysies gekomponeer en in die Lugmagorkes gespeel. Hy tree nog gereeld op saam met sy groot vriend, Lieb Bester.

Skrywers en Boeke

Corina van der Spoel gesels met Karin Eloff, voormalige redakteur van die tydskrif Loslyf, ontkleedanser, kopie-redakteur en nou medesamesteller van die erotiese kortverhaleboek Bloots. Cecile Cilliers, skrywer, resesent en rubriekskrywer en ook een van die bydraers tot Bloots, vertel watter boeke sy op die oomblik lees wat haar plesier gee. Corina van der Spoel gesels ook met Dawid Minnaar wat rol van Eugene Marais in die rolprent, Die Wonderwerker, vertolk. Hy vertel van sy voorbereiding vir die film, oor die boeke wat Eugene Marais gelees het en oor die ander Marais wat hier voorgestel word – die onnutsige een, nie die een wat melancholies en neerslagtig was nie.

Geestesgesondheid

Christelle Webb-Joubert gesels met prof. Christo Lombaard oor hoekom mense glo.

RSG Dokumentêr

Fritz Klaaste neem jou op ‘n reis van die Meskel-plein in Addis Abeba in Sentraal Ethiopië af tot by Lalibela in die Noorde, eens ‘n vesting van die antieke beskawing van Abesinië. Die verhaal van die ontwikkeling van die Christelike geloof en die bou van ‘n nuwe Jerusalem word vertel.

Skrywers en Boeke

Die wenners van die Universiteit van Johannesburg-pryse vir skeppende skryfwerk vir 2011 word aangekondig. Daar is nuus oor die Mail & Guardian Literary Festival. Willie Burger gesels oor karakters in stories in ons gereelde gesprekke oor die kuns van die roman. Joan Hambidge voer ‘n onderhoud met siw historikus en skrywer, Dan Sleigh, skrywer van die roman Wals met Matilda, oor sy historiese romans, sy navorsing en dat hy meen ‘n skrywer mag ‘n resensent aanspreek oor ‘n “verkeerde” of negatiewe resensie. Corina van der Spoel gesels met Fanie Naude, wat onder die naam SJ Naude sy pryswenner debuut kortverhaalbundel, Alfabet van die voels, geskryf het. Hy praat oor die skrywer as buitestaander en ook oor die feit dat hy bewustelik gekies het om ‘n suksesvolle loopbaan in die buiteland te laat vaar om te skryf.

Geestesgesondheid

Christelle Webb-Joubert en Sonja Smit gesels oor ouers wat kinders aan die dood afstaan deur stilgeboortes en miskrame.