Daar is nuus oor die Booker-prys langlys waarop André P. Brink se nuwe roman, Philida, is. Daar is ‘n kort bespreking van vier nuwe Afrikaanse ligte romans met Christelle Webb-Joubert. Daar’s ‘n onderhoud met Leti Kleyn, medesamesteller van ‘n nuwe Afrikaans skryfgids en handleiding vir voornemede skrywers. Terrance April vertel meer oor die digter Kelvin Sole. Willie Burger praat in sy gereelde rubriek oor aspekte van die roman oor die proloog. Joan Hambidge gesels met Carina Stander oor haar debuutroman, Wildvreemd.
Geestesgesondheid
Christelle Webb-Joubert gesels met dr. Gerhard Grobler oor obsessiewe kompulsiewe versteurings.
Kruis en dwars 29 Julie 2012
In die werkplek is dit deesdae geen uitsondering dat mense van verskillende gelowe in een kantoor saamgegooi word nie. Wat sê die verskillende heilige geskrifte oor werk? Is dit ’n seen of ’n straf? Hoe moet verskillende gelowe mekaar in die werkplek akkomodeer?
Leefwêreld van die Gestremde
Wat is die impak van Down Sindroom op mense wat regstreeks daardeur geraak word? Tineke Boshoff van Kaapstad vertel hoe sy en haar gesin die uitdagings saam-saam aanpak.
Taaldinge
Wat is die etimologie van die word brief? Wat is ‘n ambulant of sillogisme?
Oggenddiens
Prof. Kobus de Smidt van die Familia Dei Gemeente, Weavindpark, Pretoria.
Sterre en Planete
Hoe vind jy ‘n bepaalde ster of planeet as daar te veel sterre is? Daar is ook ‘n gesprek met prof. Matie Hofmann wat tans in Louisiana in die VSA is om ‘n planetariumkonferensie by te woon. Kobus Olckers van die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimte-agentskap praat ook oor die koronagaatjies op die son.
Islam in Fokus
‘n Besprekingsprogram vir die Moslemgemeenskap.
RSG Dokumentêr
‘n Hoorbeeld oor ‘n vrou wat diep spore getrap het in die Suid-Afrikaanse uitsaaiwese.
Skrywers en Boeke
‘n Paar romans waarin die Olimpiese Spele ‘n rol speel, word bespreek. Daar is ‘n gesprek met PG du Plessis wat die Helgaard Steyn-prys gekry het vir sy roman, Fees van die Ongenooides. Hy gesels oor die vertaling van die boek waaraan hy nou werk en ook waarmee hy hom tans besig hou. Die digter Wopko Jensma sou op 26 Julie 73 jaar oud gewees het en daar word gekyk na sy bydrae tot die Suid-Afrikaanse letterkunde en protesliteratuur. Terrance April het sy gereelde bydrae oor ‘n skrywer uit Afrika – vandag gee hy meer inligting oor die skrywer Veronique Tadjo wat oorspronklik van die Ivoorkus kom. Ten slotte is daar ‘n onderhoud met prof. Andries Oliphant oor die struggle-letterkunde van die jare 70 en 80, veral met betrekking tot die uitgewerye en skrywersverenigings van daardie tyd. Hy praat oor die reg van die skrywer om aanstoot te gee en satiriese bespottings te maak, maar ook oor die verantwoordelikheid van die skrywer om fyn te dink.