Taaldinge

Die plasing van die werkwoord, ‘n diktee en ‘n bydrae met die Stigting vir die Bemagtiging van Afrikaans op die spyskaart.

Oggenddiens

Dr. Jerry Hope, Die Bybel Gereformeerde Kerk, Eldoradopark

Sterre en Planete

Wat gebeur as twee sterrestelsels teen mekaar bots? Prof. Matie Hofmann en Willie Koorts praat oor donker materie en dr. Pierre Celliers van die Suid-Afrikaanse Ruimte-agentskap bespreek die effek van die son se aktiwiteit op die werking van iets soos die SKA.

Skrywers en Boeke

In Boekenuus kan jy hoor wat die akteur Tobie Cronje lees en daar is nuus oor ‘n boekbind-en herstelkursus by die Taalmuseum in die Paarl. ‘n Bemarker van Exclusive Books gesels oor die Homebru Promosie en hoe dit gaan met Afrikaanse boeke by dié winkelgroep. Joan Hambidge gesels met die literator, digter, vertaler en kortverhaalskrywer Henning Pieterse oor die UP Winterskool en die funksie van skryfskole. Kan ‘n mens iemand leer om te skryf? Daar is ook ‘n nuwe rubriek van kort gesprekke met Willie Burger, letterkundige van die Universiteit van Pretoria, oor stories en die storie agter die storie. In die eerste gesprek word daar gekyk na wat dit is wat fiksie van nie-fiksie onderskei.

Kruis en dwars 3 Junie 2012

Johann Symington gesels oor die werkplek en Christene se verantwoordelik om die beeld van Jesus daar uit te leef.

Rand en sent

As die ondenkbare gebeur en jou geliefdes bly alleen agter, wil ’n mens sien dat hulle goed versorg is. Die opstel van ʼn geldige testament is die aangewese manier om dit te doen. Helen Ueckerman gesels met Franscois van Gijsen, ’n direkteur van die finansiëledienstefirma, Finlac. Hoe kan ’n mens verseker dat daar geld is vir jou kinders om te gaan studeer, dat jou lewensmaat die mas kan opkom sonder jou bystand en dat enige skuld uit die weg geruim is as jy die dag nie meer daar is nie?

Leefwêreld van die Gestremde

Fanie du Toit gesels met Johan Viljoen, voormalige nasionale direkteur van die Nasionale Raad vir Persone met ‘n Liggaamlike Gestremdheid in Suid-Afrika. Sy opvolger, Therina Wentzel, vertel ook van die uitdagings wat op haar skouers rus.

Hoe verklaar jy dit?

Maak die lang paringsproses van sekere soogdiere, soos wildehonde, hulle nie kwesbaar teen aanvalle van ander roofdiere nie? Hoekom krimp sekere materiale wanneer dit verhit word? Kan die reikwydte van afstandbeheer-toestelle verhoog word deur dit teen jou kop te hou? En waarom word sekere oorgangsfossiele steeds vermis? Dié vrae word beantwoord deur prof. Hendrik Geyer en dr Jurie van den Heever.