Hoe hanteer ons gesprekke met kinders oor ingewikkelde onderwerpe soos identiteit, insluiting en ‘n gevoel van behoort? Mari Payne, Seniordirekteur: Opvoeding en Programme by Sesame Workshop International South Africa het raad.
Delicia se klein wonderwerkie
Delicia Loggenberg het agt beroertes oorleef. Asof dit nie genoeg trauma was nie, het dokters haar in Oktober 2024 gevra om die masjiene af te skakel wat al drie dae lank haar 21 maande oue dogtertjie, Caylin, aan die lewe hou. Maar ‘n halfuur later gebeur ’n wonderwerk. Klein Caylin, wat met ’n skaars breinafwyking gebore is, begin weer asemhaal! Eloise Cupido gesels met Delicia oor hierdie ongelooflike oorlewingstorie vol geloof en hoop.
Sterskieter 26 Februarie 2026
Deel 2: Jolyn Phillips is ’n bekroonde digter, skrywer en kunstenaar, wie se werk taal, identiteit en storie op ’n kragtige manier saamvloei. Sy het al nasionale erkenning vir haar poësie en prosa ontvang, en haar stem word as een van die belangrikstes in kontemporêre Afrikaanse letterkunde beskou. In hierdie gesprek leer ons Jolyn nie net as kunstenaar ken nie, maar ook as mens. Sy gee tans klas by Brown Universiteit in die VSA.
Waarom wil ongelowiges, gelowiges ‘bekeer’?
In ‘n onlangse artikel deur die redakteur van die aanlynpublikasie, Binne+Land, Anneliese Burgess, sê sy sy verstaan nie die drang by ongelowige mense, veral voormalige gelowiges, om gelowige mense te probeer bekeer na ongelowigheid nie. Die afgelope paar weke woed daar gereeld debatte in koerantartikels en briewe tussen gelowiges en mense wat nie glo nie. Ons praat hieroor met Anneliese en welkom en met professor Johann Rossouw, hoof van filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat.
Boek oor Parlement volg ná Op en Wakker-reeks
Vir 13 weke lank het die oud-LP en leier van die Vryheidsfront Plus, dr. Pieter Mulder, ons vermaak en opgevoed met sy reeks praatjies oor die Suid-Afrikaanse parlement, maar ook oor ander parlemente van regoor die wêreld. Die praatjies was so gewild dat daar nou ‘n boek uitgegee is. Die boek, PARLEMENT PRAATJIES, het pas verskyn.
Historiese Almanak 26 Februarie 2026
Albe Grobbelaar praat oor die tragiese stranding van die Britse skip, HMS Birkenhead, in 1852 langs die Kaapse kus. Die Birkenhead was een van die eerste staalrompskepe van die Britse Vloot, en het bekend gestaan as die Titanic van die Victoriaanse Era.
Begroting verloop aansienlik beter as verlede jaar
Verlede jaar se begrotingsproses is in chaos gedompel nadat die DA- en die VF Plus-lede van die Regering van Nasionale Eenheid geweier het om die begroting te steun weens die voorgestelde verhoging in BTW. Dit was die eerste keer in die geskiedenis dat ‘n begroting nie goedgekeur kon word nie. Dis uiteindelik in Mei goedgekeur. Een van die groot dorings in minister Enoch Godongwana se vlees verlede jaar, was die DA-woordvoerder oor finansies, dr. Mark Burke. Mark, en die oud-LP en leier van die VF Plus, dr. Pieter Mulder, sluit by ons aan.
Begroting: Die soet en suur
Finansminister Enoch Godongwana se begroting is met gemengde reaksie ontvang. Terwyl daar lof was vir belastingverligting, is daar ook gegrom oor hoër heffings op brandstof, en kritiek dat daar steeds te min geld vir verdediging begroot is. Om oor die soet en die suur van die begroting te gesels, sluit Chris Hattingh van die Sentrum vir Risiko-ontleding by ons aan. Hy was in die parlement toe die begrotingsrede gelewer is.
Wat jy vandag moet weet 26 Februarie 2026
Die gesprek om die RSG-ontbyttafel begin elke oggend met ‘n oorsig van die dag se hoofopskrifte op plaaslike en internasionale nuuswebwerwe en koerantvoorblaaie.
Monitor 26 Februarie 2026
Broodnodige belastingverligting in die begrotingsrede aangekondig. Die Ekapa-myn, waar vyf werkers steeds vasgekeer is, gaan gelikwideer word. Net 30% van leerlinge se leesvermoë in graad 1 tot graad 3 voldoen aan die vereistes.