Die letterkundige Willie Burger vertel in die gereelde gesprekke oor die kuns van die roman, oor die roman as resep tot betekenis. Terrance April vertel meer oor die Nigeriese skrywer, Ben Okri. Die woordeboekman Anton Prinsloo het ‘n woordeboek van bygelowe saamgestel. Bygelowe en waar hulle vandaan kom is die eerste omvattende naslaanbron oor bygelowe wat in Suid-Afrika verskyn. Die boek werp lig op die herkoms van ‘n duisternis bygelowe wat wêreldwyd bestaan. Corina van der Spoel het met Prinsloo oor sy jongste boek gesels en oor al die bygelowe wat hulle oorsprong in die teaterwêreld het. Nog ‘n storie uit die teater, hierdie keer uit die geskiedenis van die Afrikaanse teaterwêreld, kom uit Harry Kalmer se boek van verhale, Vlieger. Dis ‘n storie wat die verhaal vertel van ‘n opvoering van Shakespeare se Othelllo in Afrikaans in die Alexander Teater in die jare sewentig. Tobie Cronje, wat destyds self in die toneelstuk gespeel het, lees die verhaal, Die Moor. Joan Hambidge gesels met Catherine du Toit van die Universiteit van Stellenbosch oor haar vertaling van die Franse skrywer Michel Houellebecq se uitsonderlike digwerk. Hy is veral bekend as romanskrywer, maar in Frankryk is hierdie omstrede figuur ‘n bekroonde digter. Daar word gekyk na die werk van die Baudelaire van die supermark wat in sy siniese gedigte in opstand kom teen vele mites en leuens. Catherine du Toit vertel van probleme rondom die vertaalproses en hoe hulpvaardig die outeur was. Daar word ook van die gedigte voorgelees.