Corina van der Spoel gesels met Suzette Kotze-Myburg wat een van die samestellers is van ‘n boek met debuutverhale. NUWE STORIES is die beste 21 verhale uit die inskrywings vir die kortverhaalwedstryd vir skrywers onder dertig. Die letterkundige Willie Burger praat oor die kuns van die roman en oor die slotte en eindes van romans. Die skrywer Jan Huisamen, wat in die Richtersveld grootgeword het, is in 2011 in die ouderdom van 85 oorlede. Eers ná sy dood het sy boek, DIE VERHAAL VAN KATRYN: VROU VAN DIE RICHTERSVELD, verskyn. Die boek wat as fassinerend, meesleurend en onthutsend beskryf word, vetrel die verhaal van Katryn Jonis, ‘n formidabele vrouekarakter wat hopelik in die Afrikaanse romankuns ’n verwysingspunt sal word. RSG se hoof van drama, Kobus Burger, het met die redakteur van die boek, Suzette Kotze-Myburgh, gesels. Daar is baie mites oor die skrywer JM Coetzee. Joan Hambidge praat met Carrol Clarkson oor dié verkleurmannetjie van die Engelse letterkunde en hoe hy homself fiksionaliseer in sy verhale. Die onlangse biografie van JC Kannemeyer oor Coetzee en die studie van Derek Attwell word bekyk asook die redes vir Coetzee se vertrek na Australië.