Afrikaans word al jare lank aan universiteite in Pole gedoseer. Prof. Jerzy Koch, wat homself Afrikaans leer praat het en tans op besoek in Suid-Afrika is, vertel waarom Poolse studente Afrikaans wil studeer. Terrance April vertel meer oor die skrywer Leopold Senghor. Anzil Kulsen is ‘n skrywer van Upington. Haar jeugroman, Zita, word wyd in skole gelees. Dié storie oor ’n meisie uit ’n arm bruin gesin wat in ’n nuwe skool tussen ’n klomp wit meisies beland, is ‘n verhaal oor aanvaarding van jouself en van ander. Kulsen lees uit die boek voor en vertel meer oor die boek waaraan sy tans werk. Corina van der Spoel kyk ook na die bewaring van Suid-Afrika se literêre erfenis by die National English Literary Museum in Grahamstad. Michael Titlestad, voorsitter van die raad van NELM, vertel meer oor die probleme rondom die bewaring van belangrike literêre dokumente en oor ‘n hofgeding waarby die museum betrokke is.