Daar is ‘n regstreekse oorskakeling na die toekenning van die Hertzogprys aan die digter en dramaturg Adam Small vanaf die HB Thomteater op Stellenbosch. Small se vrou Rosalie sal die toekenning in ontvangs neem. Daarna saai ons ‘n eksklusiewe onderhoud uit wat RSG se Johan Rademan met Adam Small gevoer het waarin Rademan hom pols oor die 1965-drama, Kanna hy ko hystoe, se onderliggende boodskap van ‘n terugkoms op vele vlakke. Joan Hambidge gesels ook met die digter en romanskrywer, Piet van Rooyen, oor sy nuwe roman, Rodriguez. Die romanskrywer hou nie van etikette nie, hy glo die storie is belangriker as die taal en dat hy hierdie roman op die werklikheid gebaseer het. Hy lees ook ‘n gedig uit sy bundel, Kwansuis, voor. In die laaste deel van die program vertel Terrance April ons in sy gereelde bydrae oor Skrywers uit Afrika, meer oor die Johannesburgse digter, Sipho Sepamla en daarna luister ons na die letterkundige Willie Burger wat gesels oor karakters in romans en of dit belangrik is vir die leser om te identifiseer met ‘n karakter.