22 Maart 2026 06:00
Die Kongres van Tradisionele leiers, Kontralesa, het leiers veroordeel wat Menseregtedag gebruik om leë beloftes te maak. Die president, Mathupa Mokoena, sê Kontralesa het gister saam met miljoene Suid-Afrikaners Menseregtedag gevier ter herinnering aan dit wat hulle tydens die apartheidsera ondervind het. Hy sê die instansie sou egter eerder dié dag wou vier met toegang tot skoon water, ononderbroke elektrisiteit en vaste werk. Mokoena sê die herdenking van die dag mag nie vir leë beloftes misbruik word nie. Hy het 'n beroep op die regering gedoen om toe te sien dat mense wie se regte geskend is, vergoeding ontvang.
President Cyril Ramaphosa het 'n beroep op gemeenskapsleiers gedoen vir eerlike introspeksie. President Ramaphosa het in sy hooftoespraak ter viering van Menseregtedag in Kimberley gesê leiers moet besin of die regte wat in die Grondwet belowe word, vir Suid-Afrikaners verwesenlik is. Hy sê leiers moet ook tot die besef kom dat demokrasie in Suid-Afrika wortel geskiet het.
Die skorsing van die adjunk-hoof van die Tshwane-metropolisie, Umashi Dhlamini, is om 'n deeglike, ononderbroke ondersoek na die bewerings teen hom te verseker. Die woordvoerder van die metropolisie, Isaac Mahamba, het só gereageer op die nuus dat Dhlamini Vrydag geskors is. Sy skorsing volg op getuienis voor die Madlanga-kommissie oor tender-onreëlmatighede waarby hy betrek word. WhatsApp-boodskappe tussen hom en 'n sersant van die polisie se eenheid teen georganiseerde misdaad in Gauteng, Fannie Nkosi, het aan die lig gekom. Hy moes na bewering die finansiële hoof van die metro nader om sy invloed te gebruik om te verseker dat sekere maatskappye 'n tender van miljoene rand ontvang. Mahamba sê Dhlamini het Vrydag gevra om onmiddellik geskors te word. Hy sê sy versoek dui geensins op 'n tugproses of 'n skuldigbevinding nie.
'n Vaartuig met humanitêre hulp sal na verwagting vanaand in Kuba aankom as deel van 'n groeiende internasionale poging om hulp aan die eiland te verleen te midde van sy toenemende energiekrisis. Die situasie is vererger deur Amerika se blokkade van brandstof aan Kuba, wat benewens brandstof ook 'n tekort aan voedsel en medisyne ondervind. Die boot met 'n aantal aktiviste aan boord het uit Meksiko vertrek en neem ook sonkragtoerusting na Kuba. Amerika eis die bedanking van Kuba se kommunistiese president, Miguel Diaz-Canel, en dreig met tariewe teen enige land wat olie aan dié eiland verkoop.
TENNIS::: Die tweede gekeurde Janik Sinner het na die derde ronde van die Miami Ope deurgedring toe hy Damir Dzumhur met skoon stelle geklop het. Felix Auger-Alliassime het ook na die derde ronde deurgedring toe hy Marton Fucsovics geklop het. Ethan Quinn het vroeër vir 'n verrassing gesorg toe hy die elfde gekeurde Caper Ruud uitgeskakel het. Matteo Beretinni het op sy beurt sy plek in die volgende ronde bespreek toe hy die dertiende gekeurde Alexander Bublik van Kazakstan geklop het.