Skip to content

NUUS

RSG saai elke dag tot soveel as 18 nuusbulletins uit. Klik op die betrokke uur hieronder om daardie spesifieke bulletin te lees.

13 Mei 2026 06:00

Die N2 tussen Ndabakazi en Kei Cuttings in die Oos-Kaap is laat gisteraand in beide rigtings gesluit, nadat 'n olietenkwa omgeslaan het. Volgens die Oos-Kaapse Vervoerdepartement, het die bestuurder blykbaar beheer oor die voertuig verloor. 'n Groot hoeveelheid olie is op die padoppervlak gestort, wat uiters gevaarlike rytoestande geskep het. Motoriste is gevra om die gebied te vermy. Die Tuinroete-rampbestuursentrum sê sommige skole in die streek sal gesluit bly weens vloed- en windskade, of omdat paaie nie begaanbaar is nie. Skole in die Wes-Kaap sal vandag oor die algemeen weer oop wees, nadat dit weens stormweer gesluit is. Die Rampbestuurhoof, Gerhard Otto, sê sowat 500 mense is steeds in gebiede wat van die buitewêreld afgesny is. Sowat 580 mense wat deur die afgelope dae se storms ontwortel is, word in gemeenskapsentrums in Wolseley, Worcester en Rawsonville gehuisves. Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit sê skade aan huise en geboue is in meeste dele van die streek aangemeld, terwyl die storms ook kragonderbrekings en oorstromings tot gevolg het. Die N1 bly gesluit by die tonnel naby die Paarl en Worcester. 'n Berugte taxibaas in Mpumalanga en twee medebeskuldigdes sal na verwagting vanoggend in die Kwaggafontein-landdroshof in Mpumalanga verskyn op aanklagte van afpersing. Die drie verdagtes is gisteroggend in Gauteng en Mpumalanga in hegtenis geneem. Die inhegtenisnemings hou verband met 'n afpersingsaak wat verlede jaar in Kwaggafontein aangemeld is. Die verdagtes het glo geld van 'n sakeman geëis. Die polisie sê hulle soek na 'n vierde verdagte. Die Madlanga-kommissie het bevestig dat hy die geskorste adjunk-polisiekommissaris, Shadrack Sibiya, ingelig het dat die getuienisleiers nie tans beplan om hom terug te roep vir verdere mondelinge getuienis nie. Sibiya is by die Madlanga-kommissie deur verskeie getuies by korrupsiebewerings betrek. Hy is onder meer daarvan beskuldig dat hy korrupte verhoudings met lede van beweerde misdaadsindikate het. 'n Vierde minister het uit die Britse regering bedank te midde van druk wat toeneem dat Keir Starmer as eerste minister moet uittree. Die bedankings is weens die Arbeidersparty se swak vertoning in die plaaslike regeringsverkiesing. Een van die ministers wat bedank het, Jess Phillips sê die regering doen nie genoeg om verandering te bewerkstellig nie. Meer as 80 Britse parlementslede vra dat Starmer die tuig moet neerlê. 'n Senior minister in die Britse regering, Wes Streeting vergader vanoggend met Starmer. r