Skip to content

Radioteater

Potgooi

Radioteater

Teater van die verbeelding. Die dramas word in twee seisone uitgesaai: April tot Junie en Oktober tot Desember.

GEBAKTE PERE deur Karin du Toit

GEBAKTE PERE deur Karin du Toit

Kategorie: Radioteater2026-04-09

Marnus se eerste dag op universiteit kon nie met ’n groter skok begin het nie. Emma daag ná maande se stilswye skielik by die woonstelblok waarin hy sal tuisgaan op met die nuus dat hy die pa van ’n kind is. Sy laat die baba in die drie woonstelmaats se sorg, en sê sy het die fopspeen in haar motor vergeet. Sy kies die hasepad. Vyf dae lank het die drie probeer huishou met klein Peertjie, en uiteindelik bel Adriaan sy tante Magda om te vertel van Marnus se gebakte pere. Magda kom haal die kind, en vier jaar later by die gradeplegtigheid, is dit duidelik dat Marnus en Emma versoen is, en met Magda se hulp, die trotse ouers van die vierjarige Nathan is. Karen du Toit is as gesamentlike naaswenner aangewys in RSG se 2025 Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met ATKV. Die regisseur is Lelia Etsebeth, met Christopher van der Westhuizen, Dihan Keun, JJ Roberts, Izel Bezuidenhoud, Marina Coetzee en Gretha Brazelle in die rolverdeling.

DIE HERBERGIER deur Esta Steyn

DIE HERBERGIER deur Esta Steyn

Kategorie: Radioteater2026-04-03

Die herbergier van Betlehem wat vir Maria en Josef skuilplek gegee het en saam met sy gesin die geboorte van Jesus meegemaak het, woon in Jerusalem by sy oudste seun toe Jesus 33 jaar later gekruisig word. Hulle word gekonfronteer met die onvermydelike van sy teregstelling, maar ook met konflik in der midde as hulle jongste seun saam met die tempelwag optrek om Jesus gevange te neem. Die regisseur is Helena Hugo met Cobus Visser, Gigi Strydom, Martin Jansen, Bertha le Roux-Wahl, Eswé Bruwer en Anrich Herbst in die rolverdeling.

MEEU-RUS deur Jana Nortier

MEEU-RUS deur Jana Nortier

Kategorie: Radioteater2026-04-02

Stefan, Dawid de Kock se buite-egtelike kind, erf die familieplaas ná sy afsterwe. Elna en Hein, Dawid se kinders uit sy huwelik, betwis die testament, en roep die hulp in van Landi Arendse. Landi het egter ‘n geheim van haar eie. Die spelers is Ryno Hattingh, Kim Cloete, De Waal Stemmet, Stephanie Baartman, Christine Voorendyk en Francois van Rensburg. Die regisseurs is Christelle Webb-Joubert en Juanita de Villiers. Die drama is derde plek-wenner in die 2025 RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV.

‘N WONDERWERK VIR KERSFEES deur Riana Scheepers

'N WONDERWERK VIR KERSFEES deur Riana Scheepers

Kategorie: Radioteater2025-12-25

Die “wonderwerk” in hierdie drama is gebasseer op ‘n werklike gebeurtenis. Dit het regtig so gebeur dat tannie Bettie Nysschen, ‘n bekende en geliefde figuur van buite Wildernis, haar huisdeur se sleutel gebruik het om haar bakkie oop te sluit en weg te ry nadat haar huis aan die brand geslaan het. (Egter nie tydens Kersfees nie.) Die res van die gebeure en karakters is fiktief. Tannie Sara is ’n weduwee, Sy bedryf ‘n padwinkel wat groente, vrugte, tuisgemaakte produkte, melk en eiers verkoop. Wilhelm, haar seun, help haar op die plot. Sy ideaal is om eendag sy ma te ondersteun. Hy is begaafd en wil graag gaan studeer met die bietjie geld wat hy en sy ma bymekaar kon maak. Marie is Sara se dogter, en hoog swanger. Wilhelm het nie een goeie woord vir sy suster en haar kêrel, Chrisjan nie. Chrisjan identifiseer homself as ‘n profeet wat gedurig die Woord voorhou as sy morele kompas. Hy sien ‘n eienaardige ooreenkoms tussen Marie se swangerskap en dié van Maria met die geboorte van Jesus. Hy en Marie is nie getroud nie, maar onderneem om die kind groot te maak asof hy die Messias is. Dis Oukersdag, ‘n boom word versier, kerse word aangesteek, en ‘n feesmaal word voorberei vir die klein Barnard-gesin en Chrisjan. Die karakters wens elk vir hulle eie wonderwerk, en dit is die katalisator wat ‘n wonderwerk vir almal laat gebeur. Vir sommiges goed en vir ander minder goed.Die spelers is Joanie Combrink, Mariechen Vosloo, Anrich Herbst, Dean Balie en Rolanda Marais. Johan Rademan is die regisseur.

PENDORING (EDMS) BEPERK deur Ampie van Straten

PENDORING (EDMS) BEPERK deur Ampie van Straten

Kategorie: Radioteater2025-12-18

Die eksentrieke kopieskrywer, Gert Klopper se passie, Afrikaans, wat hy liefderik as sy “meisie” beskryf, bots met konvensionele taalreëls. Sarie, ’n jong vrou wat by Gert kom werk, is geboei deur sy ongekunstelde, avontuurlike taalgebruik, en sy sjarmante uitlatings oor sy taalliefde én haar gemmerkoekies!. Hulle humoristiese en hartlike verhouding is die hooffokus van die verhaal. Die rolverdeling is Katinka Heyns, Matthys du Toit, Arno Kotze, Martie Lee, Paul Eloff, Francois Nel, Hennie Oosthuizen, Will Bernard, Francois de Bruin, Willie Pretorius, en Allewyn Lee. Roelf Jacobs het die regie behartig. Die klankbaan is opgeneem met ‘n lewendige orkes onder leiding van Theo Erasmus.

MISVERSTAND deur Anene Loots

MISVERSTAND deur Anene Loots

Kategorie: Radioteater2025-12-11

Elna probeer haar wankelrige huwelik red deur vir haar man, Bert, ‘n verrassingspartytjie te reël om sy 60ste te vier. Bert raak agterdogtig, en kom tot sy eie gevolgtrekkings… Die spelers is Joanie Combrinck, Albert Maritz, Nic de Jager en Ané Fourie. Thomas van Niekerk debuteer as regisseur.