RESEPTE
Surita se roomkaastertjies
Bestanddele
400 g blaardeeg
handvol babatamaties, opgesny in kleiner stukkies
100 g ontpitte olywe, rofweg gekap
2 houertjies gegeurde roomkaas (150 g elk)
gekapte dille en pietersielie, of vars kruie van jou keuse
1 groot ui, in kwarte gesny en dan in dunnerige skyfies
1 eetlepel botter, margarien of olie
1 eetlepel suiker
5 ml witwynasyn of suurlemoensap
sout en peper na smaak
Metode
Braai uie in ‘n warm pan in olie of botter.
Voeg die suiker by, en braai totdat die ui ‘n mooi glansende bruin kleur het.
Die pan moenie te warm wees nie, anders sal die uie brand.
Voeg die asyn of suurlemoensap by, en geur met sout en peper.
Skep dit uit op kombuispapier.
Rol die deeg uit op ʼn meelbestrooide oppervlak.
Druk sirkels uit die deeg van ongeveer 12 cm in deursnee.
Smeer ʼn kolwyntjiepan, en plaas die deegsirkels daarin.
Indien verkies, kartel die rante want dit sal mooi vertoon wanneer die tertjies gaar is.
Plaas ‘n eetlepel roomkaas in die holtes, gevolg deur olywe en tamaties.
Geur met die vars kruie.
Bestryk die deegrante liggies met geklitste eier.
Bak op tweede rak van onder af vir omtrent 15 minute by 180⁰ C tot goudbruin en gaar.
Indien die onderkant van tertjies nog nie heeltemal gaar is nie, plaas dit op bodem van oond vir slegs ‘n paar minute.
Laat dit afkoel.
Garneer die tertjies met ‘n skeppie uie, en bedien met ‘n groenslaai.