Skip to content

Nuusbulletins

Die borgtogaansoek van die Noordwes-sakeman Suliman Carrim is in die Musina-landdroshof in Limpopo voorbehou tot volgende Maandag. Carrim se borgtogaansoek is deur middel van 'n beëdigde verklaring gedoen wat voorgelees is in die hof. Hy staan tereg op aanklagte van bedrog, poging tot motordiefstal en uitgifte. Volgens die senior staatsaanklaer Jan Krijt is Carrim 'n vlugrisiko wat hom in enige land kan vestig indien borgtog toegestaan sou word. Volgens Krijt moet die probleme in ag geneem word wat Suid-Afrika die afgelope jare ondervind het om die Verenigde Arabiese Emirate sover te kry om verdagtes, soos AJ Gupta uit te lewer. Krijt het ook aangevoer dat Carrim eiendomsbelange het wat hy nie in sy aansoek bekend gemaak het nie.

Die moordbeskuldigde, Vusimuzi 'Cat' Matlala, het die akkuraatheid van sy Artikel 204-beëdigde verklaring voor die Madlanga-kommissie betwis. Artikel 204 van die Strafproseswet bepaal dat 'n getuie vrygestel kan word van vervolging vir oortredings wat in hul getuienis bekend gemaak is, onderhewig aan sekere voorwaardes. Volgens Matlala was lede van die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie - Idac - betrokke by die opstel van die verklaring. Dit het volgens hom oordrywings en inligting bevat wat hy nie verskaf het nie. Hy beweer ook dat die ondersoekers - Dylan Perumal, Suneel Bellochun en Brian Padyachee - hom onder druk geplaas het om 'n staatsgetuie te word - en hom gunstige behandeling aangebied het in ruil vir sy samewerking. Matlala het die bewerings gemaak terwyl hy gedeeltes van sy beëdigde verklaring tydens sy getuienis voor die Kommissie aangepas het.

Matlala het ook getuig dat die voormalige adjunk nasionale polisiekommissaris, Shadrack Sibiya, glo sy vrou gekontak het om hom te dreig vóór sy verskyning voor die Parlement se ad hoc-komitee. Matlala het die akkuraatheid van 'n paragraaf in sy Artikel 204-beëdigde verklaring bevestig wat verklaar dat sy vrou hom ingelig het oor Sibiya se oproepe om hom te waarsku dat hy nie inligting oor hom aan die komitee openbaar moet maak nie. Matlala het egter geweier om besonderhede oor die beweerde dreigemente te verskaf, en het aan die Kommissie gesê dat hy om veiligheidsredes nie kommentaar kan lewer nie.

Die luggehalte in die Indiese hoofstad, Delhi, het verder verswak ná die viering van die Hindoe Fees van Ligte, Diwali. Inwoners het 'n hofverbod op vuurwerk verontagsaam en tot laatnag klappers en vuurwerk geskiet. Vanoggend het 'n giftige waas inwoners begroet. Die Indiese hooggeregshof het vroeër vandeesmaand gelas dat slegs gesertifiseerde lae-besoedelingsvuurwerk gebruik mag word en slegs gedurende beperkte ure van die Diwali-naweek. Gedurende die noordelike halfrond se wintermaande is Delhi gehul in rookmis wat vererger word deur motors se uitlaatgas, rook van kap-en-brand-landbou en nywerheidsaktiwiteit.

Rusland se bekendste onafhanklike koerant, Nowaja Gazeta, het sy laaste redaksionele vergadering gehou voordat hy sy deure gesluit het. Ná 'n bestaan van meer as 30 jaar het die koerant uiteindelik geswig onder die volgehoue druk van die staat. Die Kremlin het die koerant as 'n buitelandse agent geklassifiseer. Volgens Steve Rosenberg van die BBC het die Gazeta lig gewerp op gevaarlike onderwerpe in Rusland soos korrupsie en menseregtevergrype. Ses joernaliste van die koerant is in sy bestaan vermoor.

Deel nou