Skip to content

Nuusbulletins

Die poging-tot-moord-beskuldigde Vusimuzi 'Cat' Matlala het aan die Madlanga-kommissie gesê dat 'n ontmoeting vir hom gereëls is met die destydse adjunkminister van Openbare Werke, Bernice Swarts. Volgens Matlala het 'n bondgenoot van die voormalige nasionale adjunkpolisiekommissaris Shadrack Sibiya dié vergadering gereël. Hy sê die gesprek het gehandel oor moontlike toegang tot eiendomme van die departement van Openbare Werke vir gesondheidsgeriewe. Matlala ontken aantygings dat die verkryging van die polisiediens se hospitaal-leenooreenkoms bespreek is, wat volgens hom, toe reeds toegestaan was. Hy het voorts gesê dat daar geen betaling, gunste, of vergoeding bespreek is of aangebied is vir Swarts tydens die vergadering nie. Swarts is tans een van twee adjunkministers van Bosbou, Vissery en die Omgewing.

Die borgtogaansoek van die Noordwes-sakeman Suliman Carrim is in die Musina-landdroshof in Limpopo voorbehou tot volgende Maandag. Carrim se borgtogaansoek is deur middel van 'n beëdigde verklaring gedoen wat voorgelees is in die hof. Hy staan tereg op aanklagte van bedrog, poging tot motordiefstal en uitgifte. Volgens die senior staatsaanklaer Jan Krijt is Carrim 'n vlugrisiko wat hom in enige land kan vestig indien borgtog toegestaan sou word. Volgens Krijt moet die probleme in ag geneem word wat Suid-Afrika die afgelope jare ondervind het om die Verenigde Arabiese Emirate sover te kry om verdagtes soos AJ Gupta uit te lewer. Krijt het ook aangevoer dat Carrim eiendomsbelange het wat hy nie in sy aansoek bekend gemaak het nie.

Die saak teen tien mense wat in hegtenis geneem is nadat hulle stembriewe opgeskeur het in Douglas in die Noord-Kaap, is uitgestel tot môre. Die tien staan tereg op oortreding van die kieswet. Hulle het tydens stemtellery by die Bongani-gemeenskapsaal nagenoeg honderd stembriewe opgeskeur en kiesbeamptes geïntimideer. Ontevrede partylede het na bewering die stemlokaal bestorm ná 'n geskil oor stembriewe. Die uitslae vir dié wyk word teruggehou omdat die stemproses weer moet plaasvind.

Die regering het 'n beroep op nuut-verkose raadslede gedoen om hulle gemeenskappe met integriteit, aanspreeklikheid en deursigtigheid te dien. Volgens die regering behoort dienslewering, en die bou van veilige en inklusiewe gemeenskappe die fokus te wees ná afloop van die plaaslike verkiesing. Gemeenskappe word ook gevra om saam te werk met hulle raadslede om plaaslike regerings te versterk. Die Verkiesingskommissie het die verkiesing as vry en regverdig verklaar. 540 partye en bykans 137-duisend kandidate het die verkiesings betwis.

Die regering van Bangladesj het 'n versoek van sy voormalige eerste minister Sheikh Hasina vir 'n nuwe paspoort verwerp. Hasina is twee jaar gelede uit die kussings gelig tydens 'n gewelddadige opstand en het uit die land gevlug. Die Bangladesjiese owerheid sê dat sy 'n vlugteling is wat uitgelewer moet word deur Indië. Daar bestaan 'n uitleweringsooreenkoms tussen die buurlande en 'n versoek in dié verband word aan die Indiese regering gerig.

Die luggehalte in die Indiese hoofstad, Delhi, het verder verswak ná die viering van die Hindoe Fees van Ligte, Diwali. Inwoners het 'n hofverbod op vuurwerk verontagsaam en tot laatnag klappers en vuurwerk geskiet. Vanoggend het 'n giftige waas inwoners begroet. Die Indiese hooggeregshof het vroeër vandeesmaand gelas dat slegs gesertifiseerde lae-besoedelingsvuurwerk gebruik mag word en slegs gedurende beperkte ure van die Diwali-naweek. Gedurende die noordelike halfrond se wintermaande is Delhi gehul in rookmis wat vererger word deur motors se uitlaatgas, rook van kap-en-brand-landbou en nywerheidsaktiwiteit.

Deel nou