President Cyril Ramaphosa en sy afvaardiging het in San Jose, Kalifornië aangekom vir 'n werkbesoek aan die VSA se kuberhoofstad Silicon Valley. Die doel van die besoek is om Suid-Afrika se kunsmatige intelligensie-vermoë te uit te brei. Ramaphosa se afvaardiging sluit ministers, sakeleiers, akademici, navorsers en studente in. Hulle gaan die vooraanstaande Stanford-universiteit besoek en vergader met onder meer verteenwoordigers van Google en Microsoft. Die sakelys sluit besprekings in oor KI, robotika, kuberveiligheid, datasentrums en belegging. Die president sê hy wil Suid-Afrika se tegnologiese vermoëns versterk, vaardighede ontwikkel en Suid-Afrika vestig as 'n mededigende KI-spilpunt in Afrika.
Die Gautengse Departement van Onderwys waarsku ouers dat nie alle Graad-Een- en Agt-leerlinge in hulle voorkeurskole geplaas kan word nie. Die provinsie se LUR vir Onderwys, Lebogang Maile, sê dat meer as 270 skole reeds vol is. Nagenoeg 346 duisend aanlyn aansoeke is ontvang en teen die afgelope week is 77 persent van hulle reeds geplaas. Volgens Maile is daar groot aanvraag vir skole in Joahnnesburg, Pretoria en aan die Oos-Rand.
Die polisie in KwaZulu-Natal het 'n 32-jarige verdagte in Westville wes van Durban in hegtenis geneem vir die besit van dagga met 'n geraamde waarde van een-komma-vyf miljoen rand. Die verdagte is aangekeer tydens 'n multidissiplinêre operasie. Die polisiewoordvoerder, Ntathu Ndlovu, sê sy voertuig is op die N2 geïdentifiseer net voor hy die M-19 afrit geneem het. Hy het stilgehou en te voet gevlug. 'n Uitgebreide soektog het gevolg waarna die verdagte aangekeer is. Hy verskyn môre in die landdroshof in Durban.
Vriende en kollegas bring hulde aan die veteraan vermaaklikheidster Eddie Eckstein, wat gisteraand in die ouderdom van 86 dood is. Die geliefde sanger, akteur, komediant en verhoogster was bekend vir sy warmte, humor en lewensblyheid. Hy was omring deur familie en vriende toe hy dood is. Eckstein se dekadeslange vriend en kollega Mel Miller sê Eckstein se dood is 'n verlies vir Suid-Afrika se vermaaklikheidbedryf.
TENNIS...die Russiese tiener Mirra Andreeva het haar onoorwonne lopie voortgesit in die WTA Finals-toernooi deur die Amerikaner Jessica Pegula in skoon stelle te klop. In Indian Wells in Kalifornië was die telling in die halfeindstryd 6-3 en 6-4. Die 19-jarige Andreeva het nog nie 'n stel afgestaan in haar eerste deelname aan dié toernooi nie. In die ander halfeind, het die sesde gekeurde Oekraïener Elina Svitolina slegs drie potte afgestaan in haar sege teen die Tsjeg Linda Nosková. Die telling was 6-2 en 6-1. Andreeva en Svitolina pak mekaar vanaand om tien-uur in die eindstryd.
Die ruimtemaatskappy SpaceX het in Texas met welslae die boonste gedeelde van sy reuse-Starship-vuurpyl gevang in sy daling terug na die aarde toe. Dié baanbrekerstap deur die maatskappy van die Suid-Afrikaans-gebore Elon Musk kan die koste van ruimtevaart aansienlik verlaag. Hoewel die span nie daarin geslaag het om die onderste deel van die vuurpyl te vang nie, het hy al in drie vorige toetse daarin geslaag.