Uitspraak in die saak oor die Usindiso-brand in 2023 in die Johannesburgse middestad is uitgestel nadat die regter 'n aansoek van die verdediging toegestaan het om die saak te heropen. Ses-en-sewentig mense is in die brand in die gekaapte woonstelgebou in Marshalltown dood. Uitspraak is vandag verwag. Regter Cassim Moosa het die verdediging se aansoek toegestaan nadat kommer uitgespreek is oor bewyse wat die staat gedurende saak voorgelê het insluitend forensiese patologie-verslae en foto's van die slagoffers. Sthembiso Mdlalose staan tereg op 76 aanklagte van moord en brandstigting nadat hy na bewering die brand gestig het. Die staat sal na verwagting weer patologie verslae en foto's van die slagoffers voorlê en forensiese kenners roep. Die saak is tot Woensdag uitgestel.
Die DA sê alle vrae oor bewerings teen sy LP, Mark Burke oor oortredings van die land se valutabeheerwetgewing moet na Burke se maatskappy, Kastelo verwys word. Die bewerings teen Burke is vervat in 'n beëdigde verklaring van die Reserwebank. Dit hou verband met die verskuiwing van valuta na ander lande en die moontlike omseiling van die land se valutabeheerwetgewing. 'n Bedrag van vier miljard rand word in die verklaring genoem. Burke dien in die Parlementêre Staande Kommissies oor Toewysings en Finansies en is die DA se finansiële woordvoerder. Kastelo is 'n finansiële tegnologie-maatskappy wat deur hom gestig is. Die ANC Koukus het gevra vir die onmiddellike verwydering van Burke uit alle Parlementêre finansies-verwante komitees. Burke en Kastelo het nie op navrae gereageer nie.
Die poging tot moord-verdagte en sakeman, Vusimuzi 'Cat' Matlala sal volgende Maandag en Dinsdag sy getuienis voor die Madlanga-kommissie voortsit. Die kommissie se voorsitter, afgetrede regter Mbuyiseli Madlanga het beslis dat Matlala Woensdag ook kan voortgaan as hy nie sy getuienis die vorige twee dae afhandel nie. Matlala se getuienis is van sleutelbelang vir die kommissie se ondersoek, veral met betrekking tot die Medicare24-polisietender. Hy het egter geweier om oor die saak te getuig en hom op sy swygreg beroep. Madlanga het gelas dat Matlala se antwoordende beëdigde verklaring teen Vrydag ingedien word.
Die Nasionale Vervolgingsgesag het die besluit van die Pretoriase Handelsmisdaadhof verwelkom wat borgtog aan die gewese prokureur, Peet Viljoen geweier het. Die NVG sê die landdros is van mening dat dit die publiek se vertroue kan ondermyn indien Viljoen op borgtog vrygelaat is. Die staat het ook sy borgaansoek teengestaan. Viljoen staan tereg op 400 aanklagte van onder meer bedrog wat 27 miljoen rand beloop. Sy saak is uitgestel tot 4 September.
Aktiviste teen ongedokumenteerde buitelanders het 'n beroep gedoen op Suider-Afrikaanse leiers om onwettige immigrasie in 'n ernstige lig te beskou. Die March and March-beweging het 'n optog van sowat 200 mense in Durban gelei waar streeksleiers vergader vir die 46ste leiersberaad van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap. Die organisasie het ook die deportasie geëis van alle ongedokumenteerde migrante teen 30 September as deel van sy veldtog om druk uit te oefen op die regering om op te tree teen onwettige immigrasie. March and March se leier, Jacinta Ngobese-Zuma het 'n beroep gedoen op buurlande om ekonomiese geleenthede vir hul burgers te skep om die instroming van migrante na Suid-Afrika stop te sit.
President Donald Trump se gesant na die Midde-Ooste, Jared Kushner het meer as vier uur lank samesprekings gevoer met Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, om die Amerikaans-gesteunde vredesplan vir Gaza te bespreek. Volgens mediaberigte in Israel het die twee mans saamgestem dat Gaza nie herbou sal word tensy Hamas ontwapen nie. Die vredesplan is vroeër deur Hamas goedgekeur maar is verlede week deur Netanyahu verwerp.