Die polisie het bevestig dat die liggaam van die vermoorde vrou wat die naweek in Kempton Park aan die Oos-Rand gevind is dié is van die drawwer Elizabeth Moselakgomo. Haar liggaam was die vierde een wat die afgelope tyd in die Ekurhuleni Metro ontdek is. Moselakgomo is verlede week as vermis aangemeld toe sy nie by die huis opgedaag het nadat sy gaan draf het nie. Intussen fynkamp forensiese kenners tans die toneel in Olifantsfontein waar 'n vyfde liggaam vanoggend ontdek is. Die ander drie liggame is die afgelope twee maande langs die R21 gekry.
Intussen het die polisie 'n ernstige waarskuwing uitgereik oor aanlyn-ontmoetingsplatforms in die Kempton Park-gebied wat hulle vermoed in sommige gevalle lei tot roof en ook aanranding.
Die polisie het met 'n soektog begin na 'n verdagte in die moord op 'n 19-jarige leerling wat vanoggend by 'n skool in KwaNdengezi in Durban doodgeskiet is. Die slagoffer is blykbaar saam met die verdagte op die skoolterrein gesien voordat verskeie skote op hom geskiet is. Die polisie sê die verdagte, wat 'n skooluniform aangehad het, het daarna gevlug. Die slagoffer is op die toneel dood verklaar.
Die Spesiale Ondersoekeenheid se ondersoek na veiligheids- en BBP-beskermingstenders in die Ethekwini Metro is uitgebrei om bykomende kontrakte in te sluit. Dit volg nadat President Cyril Ramaphosa sy proklamasie van 2024 gewysig het. Die SOE sal nou in ondersoek instel na ses kontrakte, sowel as enige verlengings, wysigings of betalings wat die kontrakte raak. Die SOE moet bepaal of daar enige onreëlmatige uitgawes was en of die verkrygingsprosedures wat gevolg is regverdig, mededingend en deursigtig was.
Die polisie in die Noord-Kaap en in Botswana het oorgrens-operasies verskerp om misdaad te bekamp. Die provinsiale polisiewoordvoerder, Mashay Gamieldien sê veediefstal, gesteelde voertuie, vuurwapens, dwelms en ongedokumenteerde migrante word tydens die optrede geteiken. Hy sê vyf mense is tot dusver in hegtenis geneem en honderde voertuie deursoek. Die inhegtenisnemings hou verband met die besit van dagga en oortredings van die Immigrasiewet.
'n Woordvoerder vir die groep vlugtelinge wat uitkamp buite die kantore van die Departement van Binnelandse Sake se vlugtelingsentrum in Durban, sê hulle wag steeds vir vervoer na die Lindela-repatriasiesentrum in Krugersdorp. Princess Adjei sê amptenare het die dokumentasie van sowat drieduisend vlugtelinge geverifieer wat die afgelope vier maande op straat woon. Volgens haar wil hulle nie terugkeer na hulle woonplekke nie uit vrees vir hulle veiligheid. Adjei sê hoewel Lindela 'n repatriasiesentrum is, sal hulle skuiling en kos daar kry.
Die Europese Unie se hoof van buitelandse beleid, Kaja Kallas sê Rusland se aanval op 'n Oekraïense trein naby die grens van Pole was daarop gemik om Westerse lande af te skrik wat Oekraïene ondersteun. Die trein is aangeval kort nadat 'n ander trein met senior Europese amptenare insluitend die gewese Britse eerste minister, Boris Johnson deur dieselfde stasie beweeg het. Finland se eerste minister, Petteri Orpo het ook die voorval veroordeel. Geen ongevalle is na die aanval aangemeld nie.