Suid-Afrika se Hoë Kommissaris in Indië, Anil Sooklal, is deur die Departement van Internasionale Betrekkinge teruggeroep vir konsultasie. Dié stap hou verband met sy ontvangs van die vorige president, Jacob Zuma in Indië, en dat hy Zuma op 'n besoek aan die Gupta broers vergesel het. Die minister, Ronald Lamola het in Pretoria aan die media gesê 'n nuwe raamwerk is deur die Departement ontwikkel wat verband hou met die protokolreëlings wat in die verlede aan oudpresidente en adjunkpresidente toegestaan is oor buitelandse reise. Lamola sê ingevolge dié nuwe raamwerk wat deur die Presidensie en die Departement ontwikkel is, sal oudpresidente en adjunkpresidente voortaan verplig wees om alle besonderhede oor voorgenome buitelandse reise bekend te maak.
'n 38-jarige man is in die Hooggeregshof in Kaapstad tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op 'n polisiebeampte in Killarney Gardens bykans ses jaar gelede. Gcinikhaya Mbakula is tot 'n bykomende 57 jaar tronkstraf gevonnis vir poging tot moord, roof met verswarende omstandighede, ontvoering en die onwettige besit van 'n vuurwapen en ammunisie. Die Valke sê die saak hou verband met 'n sakeroof in November 2021, wat gelei het tot 'n oor en weer skietery tussen gewapende verdagtes en polisiebeamptes. Die 48-jarige sersant Nameto Molema is noodlottig gewond, terwyl sy kollegas ook skietwonde opgedoen het. Die beamptes is van hulle dienspistole beroof. Nog 'n beskuldigde, Luyanda Fuzile het skuld beken en is reeds in 2023 tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Die verhoor van die twee oorblywende beskuldigdes, Baxolele Matolo en Vusumzi Nyanda, sal aanstaande week hervat word.
Die Oudsthoorn-streekhof in die Klein-Karoo het 'n 'n aansoek om verlof tot appèl deur Marthinus en Johanna Rabie, van die hand gewys. Die egpaar is skuldig bevind op 34 aanklagte van bedrog en tot tien jaar tronkstraf elk gevonnis. Dit hou verband met bedrog wat tot verliese van meer as 12 miljoen rand vir die Wes-Kaapse Departement van Landbou gelei het. Die streekslanddros, Daniel Boks het die appèlaansoek geweier en beslis dat die straf gepas is in ag genome die erns van die misdade. Die egpaar het aangedui dat hulle die hooggeregshof sal nader vir verlof tot appèl, en ook sal aansoek doen om borgtog hangende die uitkoms van die nuwe appèlaansoek.
Die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdiens- en Taalgemeenskappe het 'n beroep op die regering gedoen om begraafplase en helde-akkers te beskerm. Die Kommissie het gereageer op die vandalisering van die graf van die stigter van die PAC, Robert Sobukwe in Robert Sobukwe-dorp, voorheen Graaff-Reinet in die Oos-Kaap. Dit is die tweede keer vanjaar wat dié graf beskadig is. 'n Woordvoerder van die Kommissie, Sipho Mantula sê meer moet gedoen word om plekke van kulturele belang te beskerm en te bewaar vir huidige en toekomstige geslagte.
Die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake sê die visum van die Brasiliaanse ambassadeur in Washington is herroep. Dié stap is in reaksie op Brasilië se weiering om visums aan twee Amerikaanse amptenare toe te staan. Die twee wou Brasilië besoek om samesprekings te voer met een van die kandidate in die presidentsverkiesing wat in Oktober plaasvind, Flavio Bolsonaro. Die BBC berig dat Brasilië nog nie die Amerikaanse president, Donald Trump se voorgestelde nuwe ambassadeur in Brasilië, Daniel Perez, aanvaar het nie. Die jongste reeks diplomatieke geskille tussen die twee lande het die afgelope maande opgevlam ná die VSA weer handelstariewe teen Brasilië ingestel het, en die land se bendes as terreurorganisasies verklaar het.