Skip to content

Nuusbulletins

Die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni Metropolisie, Julius Mkhwanazi is weer in hegtenis geneem. Hy en vier ander is vasgetrek in verband met die moord in 2022 op Emmanuel Mbense. Mbense is na bewering gemartel, en na hy dood is, is sy liggaam in 'n dam gegooi. Dié jongste inhegtenisneming hou verband met getuienis voor die Madlanga-Kommissie wat die polisie en privaat veiligheidsbeamptes met Mbense dood verbind. Mkhwanazi is twee keer voorheen in hegtenis geneem in verband met misdrywe by die Ekurhuleni metropolisie, 'n derde inhegtenisneming het gevolg in verband met die diefstal van edelstene in Rosebank, en nou die vierde inhegtenisneming in verband met sy beweerde betrokkenheid by die dood van Mbense.

Die bestuurshoof van Agri Oos-Kaap, Brent McNamara, sê die swak paaie in die provinsie het 'n regstreekse negatiewe uitwerking op voedselsekerheid en die plaaslike ekonomie. McNamara het by die Agri Oos-Kaap kongres in Jeffereysbaai gesê die regering moet dringend aandag gee aan die paaie in die provinsie. Hy sê die padnetwerk is die slagare van die landbousektor, en as die paaie onbegaanbaar is, kan die sektor nie funksioneer nie. Hy sê in samesprekings met die premier, en die LUR'e vir Landbou en Vervoer, was daar eenstemmigheid dat die landbougemeenskap in 'n moeilike posisie is.

Die polisie in die Wes-Kaap het beslag gelê op smokkeldrank ter waarde van 420 duisend rand. Die polisiewoordvoerder, Ndakhe Gwala, sê die klopjag in Saldanhabaai aan die Weskus is gesamentlik uitgevoer deur die polisie, die Inkomstediens en die provinsiale drankraad. Gwala sê beslag is gelê op drank met vervalsde handelsname, en 'n onbekende bedrag kontant. Hy sê niemand is nog in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort. Gwala sê die polisie sal sterk optree teen die verkoop en verspreiding van smokkeldrank, en dat ongelisensieerde verkope die land se ekonomie en mense se gesondheid bedreig.

Die administrateur van die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema, Hlengani Mathebula sê alles is in die stryd gewerp om probleme by die Skema op te los. Dit was die derde keer sedert 2018 wat die staat by die Skema moes ingryp. Mathebula sê hy het die afgelope drie maande met meer as 20 rolspelers beraadslaag, insluitend universiteite, studente en vakbonde. Hy het gister 'n plan om bestenigheid te bevorder, aan die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding oorhandig. Mathebula sê die plan sluit onder meer in dat meer as 70 duisend studente wat aan die NSFAS-kriteria voldoen, toegelaat word om te registreer. Hy sê sekere kategorieë studente by Universiteite van Tegnologie en Unisa moes wag tot die Skema toestemming gee dat hulle mag registreer.

Die watervlak van die Rynrivier in Duitsland het tot 'n nuwe rekordvlak gedaal. Die land se binnelandse skeepsvaartagentskap sê sommige vragvervoerdienste word gestaak, terwyl sommige met verminderde vrag per vaartuig voortgaan. Die vlak water beteken dat van die bote slegs 20 persent van hulle normale lading kan vervoer. Die Rynrivierroete word gebruik vir die vervoer van kommoditeite soos graan, brandstof en erts. Onlangs is berig dat soortgelyke probleme ook op die Donau-rivier voorkom.

Die Australiese regering het aangekondig dat hy die oorgang na hernubare energie gaan versnel. Dit sluit in dat die koste om sonpanele te installleer by fabrieke, pakhuise, sakeondernemings en op plase met 'n vyfde besnoei word. Met dié beleid word bestaande maatreëls vir individue ook uitgebrei. Sowat 'n derde van alle huise in Australië gebruik sonkrag, wat die hoogste proporsie ter wêreld is, en die verskaf 'n tiende van Austalië se energie. Die land se Minister van Klimaatverandering en Energie, Chris Bowen het in Canberra gesê die groter subsidies en afslag is 'n onmiddellike besnoeiing van die koste van energie. Hy sê dit vergroot die land se hernubare energievoorsiening en verlaag die afhanklikheid van steenkoolaanlegte.

Deel nou