President Cyril Ramaphosa staan 'n dringende direkte appèl na die Konstitusionele Hof deur die Afsettingskomitee en politieke partye teen. Hulle soek duidelikheid oor die uitspraak van die Wes-Kaapse hooggeregshof sowat twee gelede wat beveel het dat die komitee sy werk staak hangende Ramaphosa se aansoek vir die hersiening van 'n Artikel 89 onafhanklike paneelverslag - wat in September aangehoor word. Die Afsettingskomitee het by die ATM, EFF en MK-party aangesluit, en voer onder meer in hul betoog aan dat hul duidelikheid wil hê oor die hofbevel wat 'n uitspraak van die Konstitusionele Hof omvergewerp het. Hulle bevraagteken die hooggereghof se jurisidiksie om 'n grondwetlike aangeleentheid soos die betrokke een te hanteer. Die President sê in sy beëdigde verklaring, die applikante dui nie aan dat hul aansoeke dringend is nie, en hulle bied nie argumente aan vir direkte toegang tot die Konstitusionele Hof nie. Ramaphosa sê dit is nie in belang van geregtigheid om appèl toe staan teen 'n tussentydse bevel nie.
Die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni Metropolisie, Julius Mkhwanazi is weer in hegtenis geneem. Hy en vier ander is vasgetrek in verband met die moord in 2022 op Emmanuel Mbense. Mbense is na bewering gemartel, en na hy dood is, is sy liggaam in 'n dam gegooi. Dié jongste inhegtenisneming hou verband met getuienis voor die Madlanga-Kommissie wat die polisie en privaat veiligheidsbeamptes met Mbense dood verbind. Mkhwanazi is twee keer voorheen in hegtenis geneem in verband met misdrywe by die Ekurhuleni metropolisie, 'n derde inhegtenisneming het gevolg in verband met die diefstal van edelstene in Rosebank, en nou die vierde inhegtenisneming in verband met sy beweerde betrokkenheid by die dood van Mbense.
Die energiereus, Sasol, het 'n strategiese ooreenkoms met 'n toonaangewende groenwaterstof-tegnologiemaatskappy, Envision Group, onderteken om sy Suid-Afrikaanse fasiliteite te herontwikkel in laekoolstof-sentrums. Envision is 'n multinasionale maatskappy vir groentegnologie, met sy hoofkwartier in Sjanghai, China. Die ooreenkoms is gefinaliseer tydens die tweedaagse Elektrisiteits- en Energiekonferensie wat tans in Beijing in China plaasvind. Die minister van Elektristeit, Kgosientsho Ramokgopa, het die Suid-Afrikaanse afvaardiging by die ondertekeningseremonie gelei. Die regering is deur die Openbare Beleggingskorporasie 'n groot belegger in Sasol.
Die polisie in KwaZulu-Natal sê minstens 80 mense wat deelgeneem het aan 'n betoging teen onwettige immigrasie, word aangehou by die polisiestasie in Greyton vir ondervraging en verdere ondersoek. Minstens drie mense is beseer in die betoging wat by Kranskop plaasgevind het. Die polisiewoordvoerder Robert Netshiunda sê berigte is ontvang dat verskeie winkels tydens die betoging geplunder is. Hy het benadruk dat betogers nie die reg in eie hande kan neem nie.
Argeoloë in Rome het afgekom op 'n gebou uit die tweede eeu wat die barakke van antieke Romeinse brandbestryders kan wees. Vyf van die gebou se agt vertrekke is reeds volledig opgegrawe in die Villa Celimontana park. Die argeoloë het mosaïek gevind wat 'n dolfyn, 'n vis en 'n kreef uitbeeld, sowel as 'n beskilderde plafon. Die mosaïek is soortgelyk aan die wat vantevore in Ostia by barakke opgegrawe is. Die argeloë sê in 'n verklaring as die hipotese bevestig word, kan dit belangrike insig bied oor militêre komplekse in die tyd van die Romeinse Ryk. Hulle sê verdere navorsing en die ontleding van materiaal wat op die toneel gevind is, sal bepaal presies wat die struktuur is.