'n Lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, Ronald Lamola, het gedreig met regstappe indien oudminister Nkosazana Dlamini-Zuma nie haar bewerings oor hom in die openbaar terugtrek nie. Lamola het in 'n ope brief aan Dlamini-Zuma - wat ook 'n lid is van die NUK - bewerings dat stemme gekoop is tydens die ANC se 54ste nasionale konferensie, ontken. Dlamini-Zuma het Maandag in 'n Renaissance-potgooi beweer dat 'n stemnota versprei is wat na bewering van Lamola afkomstig was, en oor die koop van stemme gehandel het. Sy sê geld het by sommige van die ANC se nasionale konferensies 'n groot rol gespeel, en moontlik die uitkomste van leierskapsverkiesings beïnvloed.
Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, het ook Dlamini-Zuma se bewerings ontken dat hy sy pos in die ANC-sekretariaat gekoop het. Mbalula sê hy het sy regsverteenwoordigers opdrag gegee om duidelikheid van Dlamini-Zuma te verkry oor wat hy as "baie skadelike en pynlike bewerings" bestempel. Dlamini-Zuma het die situasie as volg aan Mbuyiseni Ndlozi tydens die Renaissance-potgooi verduidelik.
Die Parlement het twee lede van die Nasionale Vergadering geskors nadat hulle skuldig bevind is aan die oortreding van die Parlement se Kode vir Etiese Gedrag, en Openbaarmaking van Lede se Belange. Die leier van die National Coloured Congress, Fadiel Adams, het die kode oortree toe hy die persoonlike besonderhede van 'n DA-personeellid op Facebook geplaas het. Hy is vir 20 dae geskors. Die MK-party-parlementslid, David Skosana, het op sy beurt nagelaat om 'n direkteurskap in 'n maatskappy te verklaar, en is 'n boete van 15-duisend rand opgelê. Hy is ook skuldig bevind aan die verbale intimidasie van 'n Newzroom Afrika-joernalis na 'n onderhoud in die Parlement, en is vir 15 dae geskors. Beide se salaris en toelaes word in die skorsingstydperk verminder.
Die Gautengse Onderwysdepartement het ouers gewaarsku teen swendelaars en sê hulle moet seker maak dat hulle op die Departement se amptelike webwerf aansoek doen vir skooltoelating vir aanstaande jaar. Die aanlyn-aansoeke vir Graad Een en Graad Agt vir die 2027 akademiese jaar het vanoggend geopen en duur tot 4 September. Die LUR vir Onderwys, Lebogang Maile, sê ouers wat hulp nodig het kan enige van die Departement se hulpsentrums, 15 distrikskantore of naaste openbare skool besoek.
'n Meksikaanse sosiale media-beïnvloeder - Ceser Gastelum - is doodgeskiet terwyl hy saam met sy vriende buite 'n restaurant in die deelstaat Sinaloa regstreeks uitgesaai het. Hy het meer as 'n halfmiljoen volgelinge op TikTok gehad, en het hoofsaaklik komedievideo's opgelaai. Duisende van Gastelum se volgelinge het sy dood regstreeks aanskou. Twee mense op 'n motorfiets, albei met helms aan, het die restaurant in Culiacán genader en Gastelum in die kop geskiet. Amptenare sê 'n omvattende veiligheidsoperasie is van stapel gestuur. Die voorval word vergelyk met die moord verlede jaar op 'n skoonheidsbeïnvloeder, Valeria Márquez, tydens 'n regstreekse uitsending in Jalisco.