Skip to content

Nuusbulletins

Die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Julius Mkhwanazi, is weer in hegtenis geneem. Hy en vier ander is vasgetrek in verband met die moord in 2022 op Emmanuel Mbense. Mbense is na bewering gemartel. Sy liggaam is na sy dood in 'n dam gegooi. Dié jongste inhegtenisneming hou verband met getuienis voor die Madlanga-kommissie wat die polisie en privaat veiligheidsbeamptes met Mbense se dood verbind. Mkhwanazi is twee keer voorheen in hegtenis geneem in verband met misdrywe by die Ekurhuleni-metropolisie, terwyl 'n derde inhegtenisneming gevolg het in verband met die diefstal van edelstene in Rosebank.

Die Afsettingskomitee het tydens sy vergadering aanbeveel dat advokaat Thandazani Madonsela aangestel word as sy getuienisleier. Die aanstelling moet nou deur die Parlement goedgekeur word. Die komitee het agt kandidate oorweeg wat deur parlementslede benoem is. Onder die kandidate wat die benoeming geweier het, is advokaat Sesi Baloyi, wat tans een van die kommissarisse van die Madlanga-kommissie is. Madonsela en advokaat Kate Hofmeyer was die finale kandidate waaroor die komitee gestem het. Madonsela het nege stemme ontvang, en Hofmeyer sewe.

Die Parlement het twee lede van die Nasionale Vergadering geskors nadat hulle skuldig bevind is aan die oortreding van die Parlement se Kode vir Etiese Gedrag, en Openbaarmaking van Lede se Belange. Die leier van die National Coloured Congres, Fadiel Adams, en die MK-party-parlementslid, David Skosana, is onderskeidelik 20 en 15 dae geskors. Beide se salarisse en toelaes word in die skorsingstydperk verminder.

Die bestuurshoof van Agri Oos-Kaap, Brent McNamara, sê die swak paaie in die provinsie het 'n regstreekse negatiewe uitwerking op voedselsekerheid en die plaaslike ekonomie. McNamara het by die Agri Oos-Kaap kongres in Jeffreysbaai gesê die regering moet dringend aandag gee aan die paaie in die provinsie. Hy sê die padnetwerk is die slagare van die landbousektor, en as die paaie onbegaanbaar is, kan die sektor nie funksioneer nie.

Die watervlak van die Rynrivier in Duitsland het tot 'n nuwe rekordvlak gedaal. Die land se binnelandse skeepsvaartagentskap sê sommige vragvervoerdienste word gestaak, terwyl ander met verminderde vrag per vaartuig voortgaan. Die vlak water beteken dat van die bote slegs 20 persent van hulle normale lading kan vervoer. Die Rynrivierroete word gebruik vir die vervoer van kommoditeite soos graan, brandstof en erts. Onlangs is berig dat soortgelyke probleme ook op die Donau-rivier voorkom.

'n Meksikaanse sosiale media-beïnvloeder - Ceser Gastelum - is doodgeskiet terwyl hy saam met sy vriende buite 'n restaurant in die deelstaat Sinaloa regstreeks uitgesaai het. Hy het meer as halfmiljoen volgelinge op TikTok gehad en het hoofsaaklik komedievideo's opgelaai. Duisende van Gastelum se volgelinge het sy dood regstreeks aanskou. Twee mense op 'n motorfiets, albei met helms aan, het die restaurant in Culiacán genader en Gastelum in die kop geskiet.

Deel nou