Die Padverkeeroortredingsagentskap, Aarto, gaan in die toekoms boetes vir verkeersoortredings elektronies uitstuur. Dit beteken dat motoriste nie langer kan aanvoer dat hulle nie aanmanings ontvang het nie omdat dit nie fisiek afgelewer is nie. Aarto het gewaarsku dat ou boetes geldig bly en dat nie-betaling kan lei tot strafpunte en uiteindelik die opskorting van 'n persoon se rybewys. Die eienaar van Fines-for-you, Cornelia van Niekerk het 'n beroep gedoen op motoriste om hulleself vertroud te maak met die nuwe Aarto-wet.
Die Gautengse LUR vir Onderwys, Lebogang Maile sê die provinsie sal sowat 35 miljard rand moet bestee om 200 nuwe skole in die provinsie te bou om die groeiende kapasiteitskrisis in die provinsie te takel. Hy sê oorbevolking in klaskamer is algemeen terwyl die aantal leerlinge in die provinsie toeneem. Die provinsie het jaarliks 'n invloei van tussen 50- en 100-duisend leerlinge van ander provinsies af. Maile sê meer as 500-duisend aansoeke is reeds ontvang sedert aanlynaansoeke om aanstaande jaar se Graad 1 en Graad 8 leerlinge in skole te plaas, verlede week geopen het. Dit het verdere kommer laat ontstaan oor of daar genoeg plek gaan wees vir al die leerlinge wat aansoek doen. Volgens Maile oorweeg die departement die bou van skole as 'n langtermyn oplossing terwyl bykomende klaskamers en ander tussentydse maatreëls tans gebruik word om die druk op bestaande skole te verlig.
'n Bekende bendeleier is vir ondervraging ingeneem in verband met die skietvoorval Vrydagaand in Reigerpark waarin twee lede van die gespesialiseerde teenbende-eenheid – konstabels Thapelo Tlomatsane en Sphiwe Sibeko – en twee vroue doodgeskiet is. Die polisie het ook twee R5-vuurwapens teruggekry wat aan die beamptes behoort het. Hulle word die naweek ter ruste gelê. Volgens die minister van Polisie, Firoz Cachalia, is die verdagte uit op borgtog en staan hy tereg op ses aanklagte.
Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit het 'n beroep gedoen op motoriste om weg te bly van die Swartbergpas naby Oudtshoorn in die Wes-Kaap. Die pas is gister gesluit ná swaar sneeuneerslae wat padtoestande uiters gevaarlik gemaak het. Die berg is sedert gistermiddag met 'n spierwit sneeukleed bedek.
Die polisie in die sentrale Karoo-streek van die Wes-Kaap het 'n passasier op 'n bus in hegtenis geneem nadat 'n besending dwelms met 'n geraamde straatwaarde van meer as 300-duisend rand by Prins Albert gevind is. Die 50-jarige vrou is aangekeer nadat lede van die polisie die bus deursoek het by kontrolepunt by die dorp. Beamptes het afgekom op tas met bykans 39 kilogram dagga. Die vrou verskyn môre in die Prins Albert-landdroshof.
RUGBY: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, het die ervare veelsydige voorspeler Deon Fourie by die nasionale groep ingesluit vir die komende reeks teen Nieu-Seeland, nadat hy vir 'n geruime tyd uit aksie was weens 'n besering. Die 39-jarige Fourie, wat beide as losvoorspeler en haker kan speel, sluit môre in Johannesburg by die groep aan. Sy laaste toets vir die Springbokke was in die eindstryd van die Rugbywêreldbeker in 2023 teen Nieu-Seeland in Parys. Fourie het Vrydagaand sy terugkeer tot rugby gemaak in die Stormers se wedstryd teen die All Blacks in Kaapstad. Die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, se deelname aan die eerste toets op 22 Augustus is onseker nadat hy Saterdag in die wedstryd teen Argentinië in Buenos Aires 'n dyspierbesering opgedoen het.