Skip to content

Nuusbulletins

Die vakbondfederasie Cosatu sê die jongste gepubliseerde verduidelikende nota oor die Wysigingswetsontwerp op Munisipale Strukture van Plaaslike Regering, ook bekend as die Koalisiewetsontwerp, is 'n belangrike stap om gapings in munisipale toesig te takel met die oog op die plaaslike regeringsverkiesing in November. Die wetsontwerp is daarop gemik om koalisieregerings te reguleer wat onstabiele leierskap by munisipaliteite veroorsaak het. Dit wil ook die aanstelling beperk van munisipale ampsdraers wat nie die nodige ervaring, vaardighede of kwalifikasies het nie. Een van die grootste uitdagings is stabiliteit in munisipaliteite waar daar nie 'n volstrekte meerderheid is nie. Cosatu se parlementêre koördineerder, Matthew Parks, sê stabiliteit is belangrik vir dienslewering.

Die Padverkeeroortredingsagentskap, Aarto, gaan in die toekoms boetes vir verkeersoortredings elektronies uitstuur. Dit beteken dat motoriste nie langer kan beweer dat hulle nie aanmanings ontvang het nie omdat dit nie fisiek afgelewer is nie. Aarto het gewaarsku dat ou boetes geldig bly en dat nie-betaling kan lei tot strafpunte en uiteindelik die opskorting van 'n persoon se rybewys. Die eienaar van Fines-for-you, Cornelia van Niekerk het 'n beroep gedoen op motoriste om hulleself vertroud te maak met die nuwe Aarto-wet.

Plaaslike sakeondernemings in die Swartbergpas naby Outshoorn in die Wes-Kaap sê 'n balans moet gevind word tussen om mense toe te laat om die sneeu te ervaar en om hulle veilig te hou. Die pas is sedert gister gesluit weens swaar sneeuneerslae en gevaarlike padtoestande. Die Tuinroete -distriksmunisipaliteit het 'n beroep gedoen op motoriste om weg te bly nadat sneeukykers vroeër vandag die waarskuwings verontagsaam het en verkeersbeamptes die pad moes blokkeer.

Die polisie in die sentrale Karoo-streek van die Wes-Kaap het 'n passasier op 'n bus in hegtenis geneem nadat 'n besending dwelms met 'n geraamde straatwaarde van meer as 300-duisend rand by Prins Albert gevind is. Die 50-jarige vrou is aangekeer nadat lede van die polisie die bus deursoek het by kontrolepunt by die dorp. Beamptes het afgekom op tas met bykans 39 kilogram dagga. Die vrou verskyn môre in die Prins Albert-landdroshof.

RUGBY: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, het die ervare veelsydige voorspeler Deon Fourie by die nasionale groep ingesluit vir die komende reeks teen Nieu-Seeland, nadat hy vir 'n geruime tyd uit aksie was weens 'n besering. Die 39-jarige Fourie, wat beide as losvoorspeler en haker kan speel, sluit môre in Johannesburg by die groep aan. Sy laaste toets vir die Springbokke was in die eindstryd van die Rugbywêreldbeker in 2023 teen Nieu-Seeland in Parys. Fourie het Vrydagaand sy terugkeer tot rugby gemaak in die Stormers se wedstryd teen die All Blacks in Kaapstad. Die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, se deelname aan die eerste toets op 22 Augustus is onseker nadat hy Saterdag in die wedstryd teen Argentinië in Buenos Aires 'n dyspierbesering opgedoen het.

 

 

Deel nou