City Power het 'n dringende beroep op inwoners van Johannesburg gedoen om hul elektrisiteitsverbruik te beperk aangesien die metro se kragnetwerk onder ernstige druk verkeer. Die nutsmaatskappy sê meer as tweeduisend gevalle van kragonderbrekings is reeds by sy agt dienssentrums aangemeld. Dit volg nadat die Weerdiens waarskuwings uitgereik het oor 'n koue front wat oor Gauteng inbeweeg het met temperature van onder vriespunt wat vannag verwag word. Sneeu is ook moontlik. City Power sê inwoners kan die druk op die netwerk verlig deur krag spaarsaam te gebruik.
Die vakbondfederasie Cosatu sê die jongste gepubliseerde verduidelikende nota oor die Wysigingswetsontwerp op Munisipale Strukture van Plaaslike Regering - ook bekend as die Koalisiewetsontwerp - is 'n belangrike stap om gapings in munisipale toesig te takel met die oog op die plaaslike regeringsverkiesing in November. Die wetsontwerp is daarop gemik om koalisieregerings te reguleer wat onstabiele leierskap by munisipaliteite veroorsaak het. Dit wil ook die aanstelling beperk van munisipale ampsdraers wat nie die nodige ervaring, vaardighede of kwalifikasies het nie. Een van die grootste uitdagings is stabiliteit in munisipaliteite waar daar nie 'n volstrekte meerderheid is nie. Cosatu se parlementêre koördineerder, Matthew Parks, sê stabiliteit is belangrik vir dienslewering.
Die ANC se woordvoerder in Gauteng, Mzi Khumalo, is oorlede op die onderdom van 54. Die ANC sê hy is vanoggend vroeg in die hospitaal dood nadat hy by sy huis inmekaargesak het. Khumalo het tydens sy politieke loopbaan in die plaaslike regering, die Gautengse wetgewer en die provinsiale uitvoerende gesag gedien. Ná die verkiesing in 2024 het hy aangebly as lid van die provinsiale wetgewer, en is later aangewys as voorsitter van die Portefeuljekomitee oor Samewerkende Regering en Tradisionele Sake. Khumalo het ook as die ANC se woordvoerder vir Gauteng opgetree. Die party het sy dood as 'n verlies vir die organisasie en die mense van Gauteng bestempel, en medelye met die Khumalo-familie betuig.
Die polisie in die sentrale Karoo-streek van die Wes-Kaap het 'n passasier op 'n bus in hegtenis geneem nadat 'n besending dwelms met 'n geraamde straatwaarde van meer as 300-duisend rand by Prins Albert gevind is. Die 50-jarige vrou is aangekeer nadat lede van die polisie die bus deursoek het by kontrolepunt by die dorp. Beamptes het afgekom op 'n tas met bykans 39 kilogram dagga. Die vrou verskyn môre in die Prins Albert-landdroshof.
'n Kragtige aardbewing met 'n seismiese meting van 7-komma-4 het Colombia getref. Talle mense is beseer en verskeie geboue het ineengestort. Volgens die owerhede is aansienlike skade aangerig in die Colombiaanse provinsie Chocó aan die Stille Oseaanse kus. Geboue is ook in Pereira beskadig, terwyl die aardbewing tot so ver as Bogotá en in Venezuela gevoel is. Amptenare sê daar is geen tsoenami-gevaar nie, maar het gewaarsku teen moontlike naskokke.