Die Madlanga-kommisie het gehoor dat die Minister van Polisie op spesiale verlof, Senzo Mchunu na bewering wou gehad het dat die geskorste adjunkhoof van Misdaadintelligensie, Feroz Khan hoof van die afdeling word. Dit is volgens die sakeman en poging tot moord-verdagte, Vusimuzi 'Cat' Matlala. Hy het aan die kommissie gesê dat die gewese polisieminister, Bheki Celi hom oor die plan ingelig het om Khan te bevorder. Volgens Matalala het Cele aan hom gesê dat Mchunu, Dumisani Khumalo as Misdaadintelligensie-hoof wou verwyder en hom met Khan vervang.
Die DA het sy ses burgemeesterskandidate in die Oos-Kaap bekend gestel in die aanloop tot die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November. Retief Odendaal is die kandidaat vir die Nelson Mandelabaai-metro en Hattingh Bornman en Lorraine Smith onderskeidelik vir die Kouga- en Blue Crane-munisipaliteite. Eldridge Ruiters sal in Beyers Naude-munisipaliteit staan terwyl Betty Lovens aangewys is as die kandidaat vir Inxuba Yethemba en Luvuyo Sizani vir Makana. Die DA is vol vertroue dat hy volstrekte meerderhede in al ses munisipaliteite sal behaal. Kouga is die enigste munisipaliteit in die Oos-Kaap waar die DA tans 'n volstrekte meerderheid het. Kouga se huidige burgemeester, Hattingh Bornman, sê die DA het die afgelope tien jaar baie gedoen in die munisipaliteit, maar dat die party nog beter wil doen.
'n Vragmotorbestuurder is by die Oshoek-grenspos tussen Suid-Afrika en Eswatini in hegtenis geneem vir die besit van dagga ter waarde van meer as vier miljoen rand. Die polisiewoordvoerder van Mpumalanga, Mpho Nonyane-Mpe, sê die polisie het roetine-ondersoeke gedoen toe hulle op 49 sakke dagga met 'n gewig van 630 kilogram in 'n vragmotor afgekom het. Nonyane-Mpe sê hulle het ook beslag gelê op die vragmotor wat Eswatini-registrasienommers gehad het.
Die hoofekonoom van Agbiz, Wandile Sihlobo, sê die Amerikaanse Senaat se goedkeuring van 'n twee jaar verlenging van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika, sal Suid-Afrika help om handelsbande met die VSA te verstewig. Die Senaat se besluit waarborg egter nie Suid-Afrika se voortgesette deelname aan die handelsprogram nie. Sihlobo sê die verlenging moet nog deur president Donald Trump bekragtig word. AGOA is 'n ooreenkoms tussen die Verenigde State en lande in Afrika suid van die Sahara wat aan lande wat kwalifiseer belastingvrye toegang tot die Amerikaanse mark bied.
Iran sê dat hy spanning in die Midde-Ooste gaan verskerp indien diplomasie met die VSA niks oplewer nie. Dié opmerkings spruit uit 'n nuwe beleid waarvolgens Iran meer gaan steun op aanval as verdediging. Iranse beamptes sê dat nuwe sperdatums aan die VSA oorgedra word, insluitend 'n eis dat die VSA die memorandum van verstandhouding binne die volgende paar weke implimenteer. Iran sê ook dat hy nie onbepaald Amerikaanse versperring van sy hawens gaan duld nie.