Skip to content

Nuusbulletins

Die ondersoekbeampte wat die moord op die bokskampioen, Zolani Tete ondersoek, sê al vier mans wat van die moord beskuldig word, het erken dat hulle by die misdaad betrokke was. Nkululeko Mtati het in die Mdantsane-landdroshof in die Oos-Kaap getuig tydens die borgtogaansoek van twee van die vier verdagtes. Hy sê die staat het 'n sterk saak teen al vier beskuldigdes. Mtati het ook getuig dat die twee verdagtes wat om borgtog aansoek doen, moontlik met getuies kan inmeng. Hy het ook aangedui dat een van die beskuldigdes drie ander sake teen hom het, insluitend 'n saak van voertuigdiefstal.

Die veroordeelde moordenaar Rassie Nkuna en die voormalige polisiebeampte, Jacob Chega, is tot vier keer lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op die egpaar, Lucky Mogashoa en sy swanger vrou, Sabeliwe. Hulle is in die hooggeregshof in Pretoria gevonnis in verband met die moord op die egpaar in Maart 2022 op die N12 naby die Etwatwa-afrit in Ekurhuleni. Hulle is ook tot vyf jaar tronkstraf elk gevonnis vir ontvoering, en 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel koue weer, sterk wind en swaar reën wat tot oorstromings kan lei in die Tuinroete-distrik in die Wes-Kaap. Die weerdiens sê 'n koue front wat die provinsie môre tref, sal tot Vrydag voortduur. Die vorige gure weer in die streek was in Mei en Junie vanjaar toe skade van miljoene rand aan infrastruktuur en in die landbousektor aangerig is. Drie mense het ook gesterf nadat hulle deur vloedwater meegesleur is.

Minstens 16 mense is dood in 'n busongeluk in die ooste van Egipte. Die botsing het plaasgevind op die pad tussen Dahab en Nuweiba in die suide van die Sinai-skiereiland. Die gebied langs die Rooisee is 'n gewilde toeristebestemming en lok besoekers van regoor die wêreld. Die bus het onder meer 'n aantal burgers van Jordanië vervoer.

 

Deel nou