Skip to content

Nuusbulletins

Die Speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, sê sy is tevrede dat die kwessie van immigrasie op die komende Statebondskonferensie aandag sal geniet. Didiza was deel van die groep voorsittende beamptes wat die media te woord gestaan het voor die amptelike opening van die geleentheid in Kaapstad. Owerhede het vroeër aangedui dat die Nigeriese regering 'n uitnodiging na die geleentheid van die hand gewys het weens die protesoptrede in Suid-Afrika teen ongedokumenteerde buitelanders. Didiza sê hulle verwelkom die besluit van die Statebond se parlementsvereniging dat 'n komitee die kwessie verder moet ondersoek en vóór die einde van die konferensie aanbevelings moet saamstel.

Die polisie in Leeu Gamka in die Wes-Kaap ondersoek 'n saak van strafbare manslag in verband met die botsing gisteraand op die N1 naby die dorp waarin 21 mense dood is. Twee minibus-taxi's en 'n sportnutsvoertuig was in die botsing betrokke. 'n Polisiewoordvoerder, Chris Spies, sê agtien van die insittendes is op slag dood en drie het in die hospitaal beswyk. Spies sê nog minstens 18 mense is in die botsing beseer.

Die liggaam van 'n 10-jarige meisie is 'n dam in Joostenbergvlakte naby Kraaifontein in Kaapstad gevind. Sy is glo deur plaaswerkers gevind. Die polisiewoordvoerder Ndakhe Gwala sê die omstandighede rondom die meisie se dood word ondersoek. 'n Geregtelike doodsondersoek is geopen.

Uitspraak in die borgtogaansoek van die beweerde baasbrein agter die Emfuleni kragaansluiting-bedrogspul Janitha Van Reenen Coetzee is in die Vanderbijlpark-landdroshof tot Vrydag uitgestel. Sy het saam met haar sewe medebeskuldigdes verskyn, wat intussen op borgtog van 20-duisend rand elk vrygelaat is. Hulle staan tereg op aanklagte van bedrog, diefstal, geldwassery en dat hulle met noodsaaklike infrastruktuur gepeuter het. Hulle is verlede maand deur die politieke moorde-taakspan in hegtenis geneem. Dit is nog nie bekend of hulle betrek word by die sluipmoord op die waarnemende rekenmeester van Emfuleni, Martha Rantsofu, wat doodgeskiet is nadat sy bedrog, korrupsie en tenderonreëlmatighede in die munisipaliteit onthul het.

Die sluiting van die Diamond Finsch-myn naby Lime Acres in die Noord-Kaap het sake-eienaars in die gebied 'n gevoelige finansiële slag toegedien. Bates van die myn ter waarde van miljarde rand gaan verkoop word nadat 'n sakereddingsplan goedgekeur is. Die maatskappy voer aan dat toenemende internasionale druk op die natuurlike diamantbedryf tot die myn se sluiting gelei het. Kontrakteurs en werkers van die myn is nie die maand betaal nie. Sake-eienaars sê die sluiting was 'n reuse-skok en dat hulle nie daarop voorbereid was nie.

Die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie sê Rusland se aanval gister op 'n Oekraïnse trein naby die grens met Pole, is 'n aanduiding van die Russiese president, Wladimir Poetin, se desperaatheid. Die stasie is aangeval kort nadat 'n trein met senior Europese amptenare verby die stasie gery het. Die hoof van Navo, Mark Rutte, het op die Arktiese Beraad in Finland gesê Rusland se voortdurende aanvalle op burgerlike infrastruktuur naby Navo-grondgebied sal die alliansie nie van stryk bring nie. Hy sê hulle sal volhou met hul steun aan Oekraïne sodat dié land homself kan verdedig.

Deel nou