Skip to content

Nuusbulletins

Die bestuurder van die departement van Binnelandse Sake se kantoor in KwaZulu-Natal, Cyril Mncwabe, sê die owerheid is steeds besig met die reëlings om vlugtelinge van buite die departement se kantoor in Durban na die Lindela-kamp in Krugersdorp in Gauteng te verskuif. Ongeveer 300 vlugtelinge woon die afgelope vier maande reeds op die sypaadjie buite die kantore. Hulle sê hulle voel nie veilig om in gemeenskappe te woon nie weens dreigemente teen buitelanders. Die burgemeester van die eThekwini-metro, Cyril Xaba, het verlede week aangekondig dat die vlugtelinge bereid is om na die Lindela-kamp te verskuif. Dit volg op klagtes dat hulle munisipale regulasies oortree. 'n Woordvoerder vir die vlugtelinge, Princess Adjei, sê hoewel Lindela 'n repatriasiekamp is, sal dit aan hulle skuiling en kos bied.

Die Speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, sê sy is tevrede dat die kwessie van immigrasie op die komende Statebondskonferensie aandag sal geniet. Didiza was deel van die groep voorsittende beamptes wat die media te woord gestaan het voor die amptelike opening van die geleentheid in Kaapstad. Owerhede het vroeër aangedui dat die Nigeriese regering 'n uitnodiging na die geleentheid van die hand gewys het weens die protesoptrede in Suid-Afrika teen ongedokumenteerde buitelanders. Didiza sê hulle verwelkom die besluit van die Statebond se parlementsvereniging dat 'n komitee die kwessie verder moet ondersoek en vóór die einde van die konferensie aanbevelings moet saamstel.

Die nasionale taxivereniging, die NTA, dreig met 'n landwye staking indien die regering nie aandag skenk aan sy eise nie. Die vereniging se woordvoerder, Theo Malele, sê die minister van Vervoer, Barbara Creecy, het nog geen betekenisvolle verligting aan die bedryf verskaf sedert sy as minister oorgeneem het nie. Hy sê hulle het verwag dat sy oplossings vir voortslepende kwessies in die bedryf sou vind, insluitend finansiële uitdagings, ongelykhede en uitsluiting. Hy sê pleks van oplossings, het Creecy slegs meer beloftes en toesprake gemaak, terwyl die ekonomiese grondslag van die bedryf verder verkrummel. Die NTA eis onder meer 'n brandstofrabat vir minstens 12 maande aan kwalifiserende operateurs.

Die familie van die hardloper Elizabeth Moselakgomo wie se liggaam in Olifantsfontein in Ekurhuleni gevind is, het die polisie en die publiek bedank vir hul ondersteuning. Moselakgomo het verlede week vermis geraak toe sy gaan draf het. Haar liggaam is die naweek gevind en is intussen geïdentifiseer en aan haar familie oorhandig. Nog vier liggame van vroue is die afgelope twee maande in die gebied gevind, waarvan twee sedert die naweek. Die woordvoerder van Gauteng se departement van Gesondheid, Steve Mabona, sê die departement het nog nie die liggaam van die vyfde vrou van die polisie ontvang nadat dit vanogggend in Olifantsfontein gevind is nie. Die ander drie is in lykshuise van die departement. Moselakgomo se naasbestaandes sê die identifiseringsproses was vir hulle baie moeilik, maar die polisie se sielkundiges verleen die nodige steun aan hulle.

Die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie sê Rusland se aanval gister op 'n Oekraïnse trein naby die grens met Pole, is 'n aanduiding van die Russiese president, Wladimir Poetin, se desperaatheid. Die stasie is aangeval kort nadat 'n trein met senior Europese amptenare verby die stasie gery het. Die hoof van Navo, Mark Rutte, het op die Arktiese Beraad in Finland gesê Rusland se voortdurende aanvalle op burgerlike infrastruktuur naby Navo-grondgebied sal die alliansie nie van stryk bring nie. Hy sê hulle sal volhou met hul steun aan Oekraïne sodat dié land homself kan verdedig.

Deel nou