Skip to content

Nuusbulletins

** Die naasbestaandes van vermiste vroue is gevra om die polisie te kontak in 'n poging om die liggame van vermoorde vroue aan die Gautengse Oos-Rand te identifiseer. Vyf liggame is die afgelope twee maande in die Ekurhuleni Metro-gebied gevind. Die enigste vrou wat sover geïdentifiseer is, is die 38-jarige Elizabeth Moselakgomo, wie se liggaam die naweek gevind is nadat sy verlede week vermis geraak het toe sy gaan draf het.

** Die bestuurder van die departement van Binnelandse Sake se kantoor in KwaZulu-Natal, Cyril Mncwabe, sê die owerheid is steeds besig met die reëlings om vlugtelinge van buite die departement se kantoor in Durban na die Lindela-kamp in Krugersdorp in Gauteng te verskuif. Ongeveer 300 vlugtelinge woon die afgelope vier maande reeds op die sypaadjie buite die kantore.

** Die Speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, sê sy is tevrede dat die kwessie van immigrasie op die komende Statebondskonferensie aandag sal geniet. Didiza was deel van die groep voorsittende beamptes wat die media te woord gestaan het voor die amptelike opening van die geleentheid in Kaapstad.

** Die polisie in Leeu Gamka in die Wes-Kaap ondersoek 'n saak van strafbare manslag in verband met die botsing gisteraand op die N1 naby die dorp waarin 21 mense dood is. Nog minstens 18 mense is in die botsing beseer.

** Uitspraak in die borgtogaansoek van die beweerde baasbrein agter die Emfuleni kragaansluiting-bedrogspul Janitha Van Reenen Coetzee is in die Vanderbijlpark-landdroshof tot Vrydag uitgestel. Haar sewe medebeskuldigdes is vroeër op borgtog van 20-duisend rand elk vrygelaat. Hulle staan tereg op aanklagte van bedrog, diefstal, geldwassery en dat hulle met noodsaaklike infrastruktuur gepeuter het.

** Die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie sê Rusland se aanval gister op 'n Oekraïnse trein naby die grens met Pole, is 'n aanduiding van die Russiese president, Wladimir Poetin, se desperaatheid. Die stasie is aangeval kort nadat 'n trein met senior Europese amptenare verby die stasie gery het.

Deel nou