Twee van die vyf vroue wie se liggame in die Kemptonparkgebied in Ekurhuleni gekry is, moet nog geïdentifiseer word. Die vroue is half naak gevind met sigbare kneusplekke aan hul liggame. Een van die oorledenes is uitgeken as Elizabeth Moselakgomo, wat gedraf het toe sy vermis geraak het. Die adjunk polisiekommissaris, Tebello Mosikilo het gisteraand tydens 'n nuuskonferensie gesê dit blyk dat die slagoffers seksueel aangerand is. Mosikili sê ook sy kan nie die moontlikheid uitsluit of bevestig dat dit die werk van 'n reeksmoordenaar is nie. Sy sê die polisie het 'n 72-uur aksieplan in werking gestel onder leiding van ondersoekbeamptes op nasionale en provinsiale vlak, wat bygestaan sal word deur die Ekurhuleni metropolisie.
Die saak teen die vermeende Kaapstadse misdaadbaas Nafiz Modack en sy 14 medebeskuldigdes is in die hooggeregshof in Kaapstad tot 5 Oktober uitgestel. Beskuldigde nommer tien, Yannick Adonis, het ná die die etensuur gesê hy kan weens uitputting en selfmoordgedagtes nie sy getuienis voortsit nie. Die voorsittende regter, Robert Henney, het die saak uitgestel sodat 'n maatskaplike werker Adonis kan evalueer.
Die nasionale taxivereniging, die NTA, dreig met 'n landwye staking indien die regering nie aandag skenk aan sy eise nie. Die vereniging se woordvoerder, Theo Malele, sê die minister van Vervoer, Barbara Creecy, het nog geen betekenisvolle verligting aan die bedryf verskaf sedert sy as minister oorgeneem het nie. Hy sê hulle het verwag dat sy oplossings vir voortslepende kwessies in die bedryf sou vind wat insluit finansiële uitdagings, ongelykhede en uitsluiting. Hy sê Creecy het slegs meer beloftes en toesprake gemaak, terwyl die ekonomiese grondslag van die bedryf verder verkrummel. Die NTA eis onder meer 'n brandstofrabat vir minstens 12 maande aan kwalifiserende operateurs.
Die bestuurder van die departement van Binnelandse Sake se kantoor in KwaZulu-Natal, Cyril Mncwabe, sê hulle is steeds besig met die reëlings om vlugtelinge wat buite die departement se kantoor in Durban bly na die Lindela-kamp in Krugersdorp te verskuif. Sowat 300 vlugtelinge woon die afgelope vier maande reeds op die sypaadjie buite die kantore. Hulle sê hulle voel nie veilig om in gemeenskappe te woon nie weens dreigemente teen buitelanders. Die burgemeester van die eThekwini-metro, Cyril Xaba, het verlede week aangekondig dat die vlugtelinge bereid is om na die Lindela-kamp te verskuif. Dit volg op klagtes dat hulle munisipale regulasies oortree. Die vlugtelinge sê hoewel Lindela 'n repatriasiekamp is, sal dit aan hulle skuiling en kos bied.
Die Amerikaanse president, Donald Trump, het hom skerp uitgelaat oor - wat hy noem - die sieklike sameswering teen kunsmatige intelligensie en datasentrums. Trump het op sosiale media uitgevaar teen oproepe om beheermaatreëls vir kunsmatige intelligensie in te stel. Hy sê sulke maatreëls sal die VSA se voorsprong bo China op dié gebied inperk. Trump sê die enigste beheermaatreëls wat KI benodig is 'n sterk en slim president, waarvan die VSA voldoende het. Sy uitspraak volg op oproepe deur hoofde van drie groot KI-maatskappye om strenger beheermaatreëls. Die vise-president, JD Vance, het egter - in teenstelling met Trump se standpunt - onlangs erken dat KI talle risiko's en nadele inhou en dat slim regulering nodig is sodat Amerika sy voorsprong kan behou.