Die saak teen die vermeende misdaadsindikaatbaas, Vusumuzi "Cat" Matlala, oor die Polisiediens se tender van 228-miljoen rand aan Medicare24, sal vanoggend formeel na die Pretoriase streekhof oorgeplaas word. Matlala sal volgens aanduiding egter eers namens sy twee maatskappye in die Handelsmisdaadhof verskyn voordat die saak oorgeplaas word. Hy sal dan Dinsdag weer saam met sy 13 medebeskuldigdes in die Pretoriase Streekhof verskyn. Matlala het hom vroeër aan sy pleit- en vonnis-ooreenkoms met die staat onttrek.
Dertien vermeende swendelaars, onder wie 'n direkteur van 'n maatskappy, is in Limpopo in hegtenis geneem vir hul beweerde betrokkenheid by 'n skema waarin hulle die departement van Arbeid uit 700-duisend rand bedrieg het. Die bedrog het verband gehou met werkloosheidsversekeringseise. Die Valke in die provinsie sê die verdagtes het voorgegee dat hulle by verskeie maatskappye afgelê is en het in Burgersfort eise teen die Werkloosheidsversekeringsfonds ingedien.
Die KwaZulu-Natalse polisie sê 'n verdagte wat gesoek is in verband met die moord op twee misdaadintelligensie-lede vroeër vanjaar in Mount Edgecombe, is dood in 'n skietery met die polisie in Inanda. Kaptein Louis Nel en sersant Mandla Khuzwayo is in April helder oordag in 'n lokval gelei. Die polisie sê 'n lid van die spesiale taakspan is tydens die operasie beseer.
Verslaggewers van drie Amerikaanse mediahuise is terug in die Withuis ná 'n federale hof die Trump-regering gelas het om sy verbod op CNN, Politico en MS Now op te hef. Die president, Donald Trump het die media-instansies die Withuis verbied weens wat Trump as hulle vals beriggewing bestempel het. In weerwil van die hofbevel is die verslaggewers aanvanklik toegang geweier. Dit het daartoe gelei dat geen Amerikaanse televisienetwerk regstreekse beeldmateriaal uitgesaai het van Trump se verwelkoming van die Chinese president, Xi Jinping nie. Die mediahuise voer aan dat die Withuis se verbod hulle regte skend ingevolge die eerste en vyfde wysigings van die land se grondwet.
'n Tweeverdiepinggebou in Athene in Griekeland het gedeeltelik in duie gestort ná 'n gasontploffing. Volgens die stad se brandweer het 'n lekkasie vermoedelik die ontploffing veroorsaak. Die gebou is in die toerisme-gebied Plaka geleë naby die Akropolis en die Tempel van Zeus. Verskeie voertuie wat in 'n straat oorkant die gebou geparkeer was, is beskadig. Een persoon is beseer in die ontploffing.
Swem..... Die Olimpiese medaljewenner, Tatjana Smith, het haar terugkeer tot professionele swem gevier met 'n goue medalje in haar nuwe voorkeuritem, die 50 meter borsslag. Sy het 'n persoonlike beste tyd in die uitdunne aangeteken, en in die eindronde haar tyd verder verbeter toe sy die afstand in 29 komma vyf nul sekondes voltooi het. Albei tye wat sy aangeteken het was voldoende om te kwalifiseer vir die Wêreld Kontbadkampioenskappe in Desember in Bejing. Die 50 meter borsslag is nou ampelik 'n item by die Olimpiese Spele en Smith mik daarna om in 2028 by die Spele in Los Angeles aan die item deel te neem. Sy het goue en silwer Olimpiese medaljes in die 100 en 200 meter borsslag gewen.