Skip to content

Nuusbulletins

Die voorsitter van die Eskom-raad, Mteto Nyati, se dienstydperk is met drie jaar verleng. Sy termyn sou aan die einde van Oktober verstryk. Nyati is die afgelope drie jaar raadsvoorsitter van die kragvoorsiener. Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientso Ramokgopa, het die aankondiging by 'n mediakonferensie gedoen nadat die kabinet die verlenging van Nyati se termyn goedgekeur het.

Die saak teen die vermeende misdaadbaas Vusimusi Cat Matlala is uitgestel tot die 29ste van vandeesmaand. Hy het vlugtig in die Handelsmisdaadhof in Pretoria verskyn, waarna die saak na die Streekhof oorgeplaas is. Maltala en twee van sy maatskappye sal saam met 13 medebeskuldigdes verskyn. Die saak hou verband met die 228 miljoen rand polisietender aan Matlala se Medicare24-maatskappy. Matlala was nie teenwoordig by die vorige hofverskyning nie, aangesien hy in die hooggeregshof in Johannesburg moes wees in verband met 'n ander saak.

Die Kaapstadse busmaatskappy Golden Arrow het sy tariefverhogings wat Maandag in werking tree beperk, ten einde pendelaars tegemoet te kom. Die maatskappy het aanvanklik in Augustus aansoek gedoen om sy tariewe te verhoog. Die verhogings sou aan die begin van vandeesmaand in werking tree. Die Wes-Kaapse minister van Mobiliteit, Isaac Sileku sê hy verwelkom die busmaatskappy se besluit om verhogings te beperk, en die meeste piektydtariewe onveranderd te hou.

Dertien vermeende swendelaars, onder wie 'n direkteur van 'n maatskappy, is in Limpopo in hegtenis geneem vir hul beweerde betrokkenheid by 'n skema waarin hulle die departement van Arbeid uit 700-duisend rand bedrieg het. Die bedrog het verband gehou met werkloosheidsversekeringseise. Die Valke in die provinsie sê die verdagtes het voorgegee dat hulle by verskeie maatskappye afgelê is en het in Burgersfort eise teen die Werkloosheidsversekeringsfonds ingedien.

Verslaggewers van drie Amerikaanse mediahuise is terug in die Withuis ná 'n federale hof die Trump-regering gelas het om sy verbod op CNN, Politico en MS Now op te hef. Die president, Donald Trump het die media-instansies die Withuis verbied weens wat Trump as hulle vals beriggewing bestempel het. In weerwil van die hofbevel is die verslaggewers aanvanklik toegang geweier. Dit het daartoe gelei dat geen Amerikaanse televisienetwerk regstreekse beeldmateriaal uitgesaai het van Trump se verwelkoming van die Chinese president, Xi Jinping nie. Die mediahuise voer aan dat die Withuis se verbod hulle regte skend ingevolge die eerste en vyfde wysigings van die land se grondwet.

Pakistanse veiligheidsmagte het 'n Afghaanse aanval afgeweer in die Gulistan-grensgebied. Verskeie Taliban-lede is in die proses dood. Die voorval het plaasgevind te midde van hernude spanning tussen die twee lande ná 'n aanval verlede week in die noordweste van Pakistan waarin 24 polisielede dood is. Pakistan het ook Maandag en gister aanvalle in die grensgebied uitgevoer. Die twee buurlande beskuldig mekaar oor en weer van oorgrensaanvalle.

'n Tweeverdiepinggebou in Athene in Griekeland het gedeeltelik ineengestort ná 'n gasontploffing. Volgens die stad se brandweer het 'n lekkasie vermoedelik die ontploffing veroorsaak. Die gebou is in die toerisme-gebied Plaka geleë naby die Akropolis en die Tempel van Zeus. Verskeie voertuie wat in 'n straat oorkant die gebou geparkeer was, is beskadig. Een persoon is beseer in die ontploffing.

Deel nou