Skip to content

Nuusbulletins

  • Die organiseerders van 'n tien kilometer lange wedloop in die Johannesburgse middestad het sosiale mediaboodskappe verwerp dat meer as honderd deelnemers beroof is tydens die wedloop. Dit volg nadat die Goudstad-burgemeester se woordvoerder, Khathutshelo Mulaudzi, op sosiale media gedeel het dat haar sak stukkend gesny en haar selfoon gesteel is tydens die geleentheid. Die organiseerders sê slegs twee sake is aangemeld. Volgens die organiseerders was daar samewerking met die polisiediens, die Johannesburgse metropolisie en privaat sekerheidsdienste om deelnemers te beveilig.
  • Limpopo se provinsiale polisiekommissaris, luitenant-generaal Jan Scheepers, het 'n beroep op polisielede gedoen om die stryd teen geslagsgeweld en vrouemoord te verskerp. Scheepers het lede op 'n polisie-gebedsdiens in Mamone, naby Jane Furse, gewaarsku dat onetiese optrede die polisiediens se reputasie skade berokken. Scheepers sê geweld teen vroue en kinders moenie geduld word nie. Hy het ook gesê lede sal senior offisiere teëkom wat jong kinders verkrag. Scheepers het gesê hy kan dit nie duld nie en hy hoop lede sal saam met hom staan om dit nie toe te laat nie.
  • Die Kieshof het die MK-party se geding oor die uitslag van die 2024 verkiesing van die hand gewys. Dié party het die integriteit en betroubaarheid van die Verkiesingskommissie se elektroniese stemselsel bevraagteken. Die saak berus grootliks op 'n voorval waartydens die elektroniese voorloperlys tydens stemtellery vir twee ure lank niks vertoon het nie. Volgens die MK-party het die OVK stemme gemanipuleer in dié tyd. Die OVK sê dat die stelsels wat stemme opteken, oudit en bevestig voortdurend aan die gang was terwyl die skerm niks vertoon het nie. Die hof het bevind dat die MK-party nie die regte prosedure gevolg het nie en gevolglik is die aansoek om die uitslagverklaring te hersien, verwerp.
  • Die ANC-leier, Cyril Ramaphosa, sê die party se steun groei. Hy het stemme gewerf in Hammarsdale, wes van Durban. Ramaphosa is vol vertroue dat die ANC beter sal vaar in die komende verkiesing, of minstens sal terugkeer na vorige vlakke van steun. Die ANC se steun in KwaZulu-Natal het in 2024 se algemene verkiesing tot 17 persent gedaal. Die party het sy volstrekte meerderheid in die Ethekwini-munisipaliteit in die munisipale verkiesing in 2021 verloor toe die party net 42 persent van die stemme op hom kon verenig. Ramaphosa het gesê hy is baie tevrede met sy kamerade se werk in die provinsie wat volgens hom van deur na deur gaan en 'n fantastiese reaksie kry.
  • Ramaphosa het verder gesê hy het empatie met vroue wat bang is nadat die liggame van nege vroue die afgelope twee maande in Ekurhuleni gevind is. Ramaphosa het gesê geslagsgeweld en vrouemoord kom wyd voor en die gebeure in Ekurhuleni het baie mense ontstel. Volgens Ramaphosa word daar aan planne gewerk oor hoe om vroue veiliger te laat voel.
  • Die VN se kinderagentskap Unicef sê daar is 'n toename in akute wanvoeding by kinders in Jemen. Unicef se verteenwoordiger in Jemen, Akhil Iyer het aan die media in Genève gesê die toestand vererger omdat gevegte toegang tot gesondheidsorg en hospitale ontwrig. Iyer sê die afgelope weke is bykans 2900 kinders ondersoek, waarvan 200 in 'n ernstige toestand van wanvoeding is. Die burgeroorlog tussen die Saoedi-Arabies-gesteunde Jemense regeringsmagte en die Iran-gesteunde Houthi's het die afgelope tyd weer opgevlam nadat dit grootliks onder beheer was met 'n skietstaking in 2022.

Deel nou