Skip to content

Nuusbulletins

Transnet sê hy het met 'n proses begin om 'n privaatsektorvennoot aan te stel om 'n nuwe uitvoerhawe vir mangaan te ontwikkel en te bedryf. Die oogmerk is om die uitvoer van mangaan met 20 persent te verhoog. Volgens die Mineraleraad het Suid-Afrika verlede jaar sowat 26 miljoen ton mangaan uitgevoer. Mangaan word grootliks gebruik in die vervaardiging van staal, maar word ook toenemend gebruik in batterytegnologie in die hernubare energiesektor. Die vennoot van Transnet sal help om 'n nuwe uitvoerkorridor vanaf myne in die Noord-Kaap na die nuwe uitvoerhawe in Ngqura in die Oos-Kaap te bou, te bedryf en te onderhou.

Die Madlanga-kommissie se getuienisleiers het aansoek gedoen dat dele van die getuienis van die voormalige adjunkhoof van Misdaadintelligensie, Feroz Khan, agter geslote deure aangehoor word. Die aansoek hou verband met sekere WhatsApp-kommunikasie waarby Khan betrokke was, asook verwante dokumente. Khan se regsverteenwoordigers sal toegelaat word om die verrigtinge agter geslote deure by te woon en die inhoud daarvan aan hom bekend te maak ten einde sy opdragte te verkry.
Die media het 72 uur om die aansoek teen te staan, terwyl die Kommissie vertroulikheid ten opsigte van die verrigtinge, opnames en dokumente versoek het. Khan sal na verwagting Maandag voor die Kommissie verskyn.

Vyf verdagtes is in die vroeë oggendure op verskeie plekke in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem in verband met die moord in April op twee beamptes van die misdaadintelligensie-eenheid. 'n Sesde verdagte is dood tydens 'n skietery met die polisie in Inanda. Die provinsiale polisiewoordvoerder, Robert Netshiunda, sê kort nadat kaptein Louis Nel en sersant Mandla Khuzwayo by Mount Edgecome in 'n lokval gelei en doodgeskiet is, is 'n taakspan aangestel om die verdagtes vas te trek. Hy sê die verdagtes is vanoggend in Pinetown, Amanzimtoti, Mandeni en Newlands-Wes in hegtenis geneem.

Drie vragmotors het vanoggend tydens 'n botsing aan die brand geslaan op die N4-tolpad tussen Hectorspruit en Marlothpark in Mpumalanga. Al drie die bestuurders is ongedeerd. Die pad in die oostelike rigting na Komatipoort is gesluit, en 'n stop-en-rybeheer word toegepas. Motoriste is gewaarsku om vertragings te verwag. Daar is toenemende kommer oor ernstige verkeersopeenhopings op dié roete, wat veroorsaak word deur groot volumes swaar vragverkeer op pad na die Maputo-hawe. Die LUR vir gemeenskapsveiligheid en skakeling in Mpumalanga, Jackie Macie, het bestuurders gewaarsku teen die verbysteek van voertuie in die aankomende baan in 'n poging om voor in die ry te kom.

Pakistanse veiligheidsmagte het 'n Afghaanse aanval afgeweer in die Gulistan-grensgebied. Verskeie Taliban-lede is in die proses dood. Die voorval het plaasgevind te midde van hernude spanning tussen die twee lande ná 'n aanval verlede week in die noordweste van Pakistan waarin 24 polisielede dood is. Pakistan het ook Maandag en gister aanvalle in die grensgebied uitgevoer. Die twee buurlande beskuldig mekaar oor en weer van oorgrensaanvalle.

Die Amerikaanse president, Donald Trump, het tydens 'n staatsbanket vir die Chinese president, Xi Jinping, kommer oor die kunsmatige-intelligensie-wedywering tussen die twee lande afgemaak. Volgens Trump het die VSA en China verskillende KI-stelsels, maar dat die verhouding tussen hulle beter is as ooit. Xi het die gehoor verseker dat die twee leiers in die veld bekwaam en verantwoordelik is. Die Chinese president sê daar sal altyd verseker word dat KI aangewend word vir die beswil van die mensdom, en altyd onder menslike beheer sal wees.

TENNIS: Die Laverbeker-toernooi skop vanmiddag af by die O2-arena in Londen met 'n wedstryd tussen Casper Ruud wat die span van Europa verteenwoordig, en Francisco Cerúndolo van die Wêreldspan. Dit is die negende keer dat die toernooi aangebied word wat na die legendariese Australiese speler, Rod Laver, vernoem is. Die twee spanne het vanjaar ook nuwe kapteins. André Agassi neem oor by John McEnroe as die Wêreldspan-kaptein, terwyl Yannick Noah vir Bjorn Borg as Europa se kaptein vervang. Die nuwelinge in die span is Rafael Jódar vir Europa, asook Learner Tien, Brandon Nakashima en die plaasvervanger, Ignacio Buse, wat vir die eerste keer in die Wêreldspan ingesluit is.

 

Deel nou