- Die weermag is in die middestad van Durban ontplooi. Hulle sal die situasie monitor ná gister se gewelddadige betogings. Die polisie se hulpbronne was gister onder groot druk aangesien woedende betogers oor die stad versprei was. Die betogers het die repatriasie van buitelandse burgers sonder dokumente en die staking van asielaansoeke geëis. Die premier van KwaZulu-Natal, Thami Ntuli, het gister gevra dat die weermag ontplooi word omdat die polisie in die minderheid was. Altesame 19 mense is ná die betogings in hegtenis geneem. Winkels en verskeie ondernemings is vernietig. Hoewel daar vandag geen teken was van die betogings nie, heers 'n gespanne toestand steeds in die stad.
- President Cyril Ramaphosa sê die besluit om die direktief oor die prosessering van asielsoekers terug te trek, is nie minagting van die hof nie. Hy sê dit is daarop gemik om behoorlike evaluering moontlik te maak voordat die uitspraak van die Konstitusionele Hof geïmplementeer word. Volgens die president werk die veiligheidsgroepering ononderbroke om kalmte te bring ná die afgelope twee dae se gewelddadige betogings teen ongedokumenteerde buitelandse burgers in Durban in KwaZulu-Natal. Ramaphosa het gepraat by die bekendstelling van 'n beleggings- en industrialisasieprojek in Phuthaditjhaba in die Vrystaat.
- Die polisie in die Noord-Kaap het beslag gelê op ammunisie ter waarde van sewe-miljoen rand. Munisipale werkers in Sunrise in De Aar het op die historiese ammunisie afgekom terwyl hulle by die Malay-kamp gewerk het. Die ammunisie, wat vermoedelik van die tydperk van die Anglo-Boereoorlog dateer, was in kratte geberg. Die polisiewoordvoerder, Cherelle Ehlers, sê die werkers het die plaaslike polisie daarvan in kennis gestel. Verdere ondersoek word nou gedoen om die oorsprong van die vonds vas te stel.
- Die Automobiel Assosiasie van Suid-Afrika, die AA, het die brandstofprysverhoging wat vandeesweek in werking getree het, veroordeel. Vroeë data van die Sentrale Energiefonds dui op 'n verdere styging van tot byna vyf rand per liter vir petrol aanstaande maand.
- Nog 'n joernalis is in Mexiko doodgeskiet, wat die getal joernaliste wat vanjaar in dié land om die lewe gebring is, op nege te staan bring. 'n Menseregte-organisasie sê gewapende mans in die suidelike deelstaat *Oaxaca het op 'n groep van drie mense, onder wie Hamurabi Huesca Manzano, losgebrand. Dit is onduidelik of hy die teiken was. Manzamo was die eienaar van 'n nuwe webwerf wat op plaaslike politiek fokus.
- RUGBY:::: Die Bulls het die Lions in die eerste Suid-Afrikaanse derby van die Verenigde Rugby-kampioenskap-seisoen in Pretoria heeltemal oorrompel. Die tuisspan het nege drieë gedruk en met 'n massiewe telling van 57–15 gewen.
- KRIEKET::: Dag twee van die eerste toets tussen Suid-Afrika en Australië op Kingsmead in Durban, het aan die besoekers behoort. Nadat die Pofpette hul eerste beurt op 187 vir ses hervat het, is hulle kort ná teetyd vir 390 uitgehaal. Matt Renshaw het 190 lopies gemoker. Suid-Afrika het daarna sy eerste paaltjie in die tweede boulbeurt verloor toe Ryan Rickelton uit is vir 'n nulletjie. Die Proteas was op 27 vir een toe spel weens swak lig gestaak is.
Nuusbulletins