Skip to content

Nuusbulletins

Die Verkiesingskommissie sê volgens voolopige aanduidings het drie-komma-vyf miljoen kiesers teen tienuur vanoggend landwyd hulle stemme uitgebring. Die OVK skryf die spoed waarteen kiesers se stemme verwerk word toe aan die vernuwings wat vir die 2026-plaaslike regeringsverkiesing ingestel is. Dit sluit in die gebruik van mobiele skandeerders, wat aan die kieserbestuurstoestelle gekoppel is. Die adjunk-hoofkiesbeampte, Masego Shiburi, sê die OVK is veral bemoedig deur kiesers wat vroeg-oggend gaan stem het om 'n gejaag teen laatmiddag en vroegaand te vermy. Stembusse sluit om negeuur vanaand.

Die Verkiesingskommissie sê daar is maatreëls in plek om te verseker dat die ongebruikte stembriewe en stempel wat in Wyk 2 in die Ethekwini Metro gesteel is, nie onwettig tydens vandag se plaaslike regeringsverkiesing gebruik kan word nie. Die diefstal is tydens 'n mediakonferensie by die nasionale uitslagbedryfsentrum in Midrand bekendgemaak.

President Cyril Ramaphosa sê die idee van 'n verpligte stemstelsel in Suid-Afrika is vir hom 'n aanloklike idee. Hy het gereageer op die OVK se verslag waarvolgens bykans 10 miljoen stemgeregtigde kiesers nie geregistreer het om te stem nie. Ramaphosa sê Suid-Afrika moet leer by ander lande wat hul burgers verplig om te stem.

Boere van die Normandien-gebied buite Newcastle in KwaZulu-Natal wat in vandag se plaaslike regeringsverkiesing stem, sê hulle word ook geraak deur probleme met munisipale dienste. Hoewel baie boere boorgate het en hulle eie elektrisiteit opwek, sê van die boere hulle moet nogsteeds paaie in die gebied gebruik, wat in 'n baie slegte toestand is. Juanita Geldenhuys van die plaas Eagles Cliff sê intussen die meerderheid van hulle plaaswerkers het aangedui dat hulle nie vandag wil stem nie.

Iran se Rewolusionêre Wag sê vier olietenkskepe is vernietig nadat seemyne in die Straat van Hormoes getref is. Volgens Iranse media is daar ook beheer geneem oor twee bykomende tenkskepe wat probeer het om 'n verbode roete in die suide van die Straat van Hormoes te gebruik. Iran het gister ook beweer dat drie tenkskepe vernietig is, nadat Amerika beperkte aanvalle op 'n eiland in die Straat van Hormoes uitgevoer het. Samesprekings om die konflik te beëindig is al vir maande op 'n dooiepunt, hoewel onderhandelings deur middel van bemiddelaars voortduur.

Deel nou