Skip to content

Nuusbulletins

7 November 2026 10:00

98-Persent van die stemme in die 2026-plaaslike regeringsverkiesing is reeds getel, en dit lyk of die OVK gereed is om môremiddag die finale uitslae bekend te maak. Die ANC loop nasionaal steeds voor met bykans 31 persent van die stemme, gevolg deur die DA met 24,55 persent en die MK-party in die derde plek met bykans 10-persent van die stemme. Hoewel die ANC in 115 rade die meeste stemme gekry het, sal hy slegs beheer hê in 48 rade. Die DA loop in 27 rade voor en het 'n volstrekte meerderheid in 11 behaal, terwyl die MK-party in 18 rade voorloop en in drie rade beheer het. Volgens die jongste uitslae het die ANC nou op nasionale vlak drieduisend-48 setels, gevolg deur die DA met duisend-37, en die MK-party met 674.

Nadat al die stemme in die Nelson Mandelabaai metro in die Oos-Kaap getel is, het die DA sy voorsprong op die ANC met 19 persentasiepunte vergroot. Hoewel dit nie 'n volstrekte meerderheid is nie, het die DA die verkiesing in die provinsie se grootste metro met 44 persent gewen. Hiermee het hulle 53 setels in die raad verseker. Die ANC het 25 persent van die stemme gekry, wat op 32 setels neerkom. In 2021 het die DA die ANC egter net-net – met slegs 0,5 persentasiepunte – geklop in 'n hewige stryd om beheer oor die metro. Albei partye het destyds 48 setels verower. Die EFF sal weer die derde grootste party in die raad wees, terwyl die SAKP drie setels met 3 persent van die stemme verwerf het.

Die Demokratiese Alliansie oorheers steeds die Kaapstad metro en loop voor met 57-persent van die stemme nadat 96-persent getel is. Die ANC is in die tweede plek met 13-komma-vier persent, terwyl die Patriotic Alliance in die derde plek is met bykans 4 persent. Kaapstad is die enigste metro waar 'n party 'n volstrekte meerderheid behaal het. Die plaaslike regeringsverkiesing van 2026 het min verandering in die politieke landskap van dié metro. Die DA het sy volstrekte meerderheid in die metro, wat hy tydens die plaaslike regeringsverkiesing van 2021 behaal het, behou. Verder was daar in vanjaar se verkiesing ook 'n afname in steun vir die EFF, aangesien die party sy derde plek aan die Patriotic Alliance afgestaan ​​het.

Die EFF sê hy sal nie in die Vrystaat tot koalisie-regerings toetree bloot ter wille van mag nie. Die party sê enige moontlike koalisie-ooreenkoms moet waarborg dat sy beleid geïmplementeer word – veral wat betref die bekamping van tenderkorrupsie en die versterking van die staat se vermoë. Die EFF se LPW in die Vrystaat, Mapheule Liphoko, sê die party oorweeg sy opsies in munisipaliteite waar geen party 'n volstrekte meerderheid het nie. Dit sluit in om by ander partye in die regering aan te sluit of om in die opposisiebanke te dien. Hy sê die EFF aanvaar die kiesers se mandaat, ondanks 'n effense afname in sy verkiesingsteun. Met al die stemme in dié provinsie geverifieer, het die EFF agt persent van die steun gelok teenoor die ANC se 37 persent en die DA se 28 persent.

Tanzanië se opposisieleier, Tundu Lissu, is tot vier jaar tronkstraf gevonnis nadat hy aan aanhitsing skuldig bevind is. Lissu is vrygespreek aan hoogverraad. Hy is in April verlede jaar in hegtenis geneem terwyl hy stemme gewerf het in die presidentsverkiesing. Hy is van hoogverraad aangekla nadat hy in 'n toespraak gesê het die publiek moet in opstand kom teen die verkiesing. Veiligheidsmagte het daarna hardhandig teen betogers opgetree te midde van bewerings dat teenstanders van die regering ontvoer word. Lissu het aangevoer dat hy 'n beroep gedoen het vir hervormings en dat sy uitlatings nie misdadig was nie.

Deel nou