Die Madlanga-kommissie het beslis dat hy sal voortgaan met die getuienis van die moordbeskuldigde, Vusimuzi "Cat" Matala, ondanks sy regspan se planne om 'n vroeëre beslissing dringend te laat hersien. Die voorsitter, regter Mbuyiseli Madlanga, het sy regsverteenwoordiger, advokaat Anneline van den Heever, se voorleggings ten opsigte van Artikel 204 van die hand gewys. Van den Heever het aangevoer dat hulle toegelaat behoort te word om die besluit in die hof te betwis voordat getuienis aangehoor word. Sy het kommer oor veiligheid uitgespreek en gesê dat dele van Matlala se getuienis behoort agter geslote deure aangehoor te word, weens beweerde dreigemente teen hom en sy gesin.
'n Vier-en-veertigjarige verdagte het vlugtig in die Knysna-landdroshof in die Wes-Kaap verskyn in verband met die moord op die voormalige Knysna-burgemeester, Aubrey Tsengwa. Die polisie sê die vermeende huurmoordenaar is Vrydag by Peddie in die Oos-Kaap in hegtenis geneem. Hy staan tereg op aanklagte van moord en poging tot moord. Tsengwa is in Augustus in sy motor doodgeskiet. Een van die drie passasiers in sy motor is in die arm gewond. Drie verdagtes is aanvanklik in hegtenis geneem vir sameswering om moord te pleeg, maar klagtes is later teen een van hulle laat vaar. Die saak is tot 10 Desember uitgestel wanneer al die beskuldiges sal verskyn.
Die staat het aangedui dat hy die sakeman, Suliman Carrim se borgtogaansoek in die Musina-landdroshof in Limpopo teenstaan. Die staat voer aan dat Carrim se versuim om voor die Madlanga-kommissie te verskyn, dui op sy onwilligheid om die wet na te kom. Die staat voer ook aan dat Carrim 'n verblyfpermit in die Verenigde Arabiese Emirate het, en daarom vir 'n paspoort van dié land kwalifiseer. Carrim staan in Musina tereg op aanklagte van poging tot voertuigdiefstal, bedrog en vervalsing. Die saak duur voort.