Skip to content

Nuusbulletins

Die Parlement se afsettingskomitee is ingelig dat die parlementslid en leier van die National Coloured Congress, Fadiel Adams, deur die Parlement geskors is. Adams is vir 20 dae geskors vanaf 3 Augustus ingevolge die Wet op Bevoegdhede, Voorregte en Immuniteite van die Parlement en Provinsiale Wetgewers. Die inligting is verskaf om te verduidelik waarom Adams nie teenwoordig was by die vergadering van die afsettingskomitee om te stem oor 'n getuienisleier nie. Hy sal ná sy skorsing weer by die komitee aansluit.

Die afsettingskomitee het tydens sy vergadering aanbeveel dat advokaat Thandazani Madonsela aangestel word as sy getuienisleier. Die aanstelling moet nou deur die Parlement goedgekeur word. Die komitee het agt kandidate oorweeg wat deur parlementslede benoem is. Onder die kandidate wat die benoeming geweier het, is advokaat Sesi Baloyi, wat tans een van die kommissarisse van die Madlanga-kommissie is. Madonsela en advokaat Kate Hofmeyer was die finale kandidate waaroor die komitee gestem het. Madonsela het nege stemme ontvang, en Hofmeyer sewe. Die ANC, wat die meeste lede op die komitee het, het buite stemming gebly. Die komitee is tans besig om sy administratiewe werk af te handel, nadat die Hooggeregshof in Kaapstad beslis het dat geen getuienis voorlopig aangehoor kan word nie. Dit is hangend president Cyril Ramaphosa se aansoek vir die hersiening van 'n onafhanklike paneelverslag.

'n 38-jarige man is in die Hooggeregshof in Kaapstad tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op 'n polisiebeampte in Killarney Gardens bykans ses jaar gelede. Gcinikhaya Mbakula is tot 'n bykomende 57 jaar tronkstraf gevonnis vir poging tot moord, roof met verswarende omstandighede, ontvoering en die onwettige besit van 'n vuurwapen en ammunisie. Die Valke sê die saak hou verband met 'n sakeroof in November 2021, wat gelei het tot 'n oor en weer skietery tussen gewapende verdagtes en polisiebeamptes. Die 48-jarige sersant Nameto Molema is noodlottig gewond, terwyl sy kollegas ook skietwonde opgedoen het. Die beamptes is van hulle dienspistole beroof. Nog 'n beskuldigde, Luyanda Fuzile het skuld beken en is reeds in 2023 tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Die verhoor van die twee oorblywende beskuldigdes, Baxolele Matolo en Vusumzi Nyanda, sal aanstaande week hervat word.

Die Oudsthoorn-streekhof in die Klein-Karoo het 'n 'n aansoek om verlof tot appèl deur Marthinus en Johanna Rabie, van die hand gewys. Die egpaar is skuldig bevind op 34 aanklagte van bedrog en tot tien jaar tronkstraf elk gevonnis. Dit hou verband met bedrog wat tot verliese van meer as 12 miljoen rand vir die Wes-Kaapse Departement van Landbou gelei het. Die streekslanddros, Daniel Boks het die appèlaansoek geweier en beslis dat die straf gepas is in ag genome die erns van die misdade. Die egpaar het aangedui dat hulle die hooggeregshof sal nader vir verlof tot appèl, en ook sal aansoek doen om borgtog hangende die uitkoms van die nuwe appèlaansoek.

Die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski sê onderskeppingsmissiele kon lewens gered het tydens die grootskaalse Russiese aanval oornag op die hoofstad, Kiëf. Die dodetal het tot minstens 17 gestyg, terwyl 44 mense ook beseer is. Volgens Zelenski is residensiële geboue, 'n treinstasie en pakhuise getref. Oekraïne het al herhaaldelik sy bondgenote gevra vir missielonderskeppers om ballistiese missiele te kan afskiet, en Zelenski sê vertragings in die verkryging daarvan lei tot verdere ongevalle en verwoesting. Volgens Rusland is logistieke en verskaffingsentrums geteiken wat gebruik word om wapens, militêre voorrade en hommeltuie te stoor. Rusland sê drie vragskepe wat militêr toerusting vervoer is ook naby die hawestad Odesa geteiken. Rusland het die afgelope weke sy aanvalle op Kiëf verskerp, terwyl Oekraïne ook toenemend aanvalle uitvoer op burgerlike infrastruktuur in Rusland, insluitend pakhuise van die aanlyn kleinhandelaar, Wildberries.

Deel nou