Skip to content

Nuusbulletins

Die polisie sê 14 vermeende onwettige mynwerkers is by Nkaneng naby Rustenburg in Noordwes dood. Die liggame is in 'n verlate mynskag gevind, maar dit is nog nie duidelik hoe hulle dood is nie. Die provinsiale polisieleierskap is onderweg na die toneel om die sterftes te ondersoek.

Die regering sê hy is besig om vas te stel wat die omvang is van skade wat aangerig is deur gure weer in dele van die land. Dit volg na swaar sneeuneerslae in dele van KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap. Hewige donderstorms is ook in verskeie provinsies aangemeld, insluitend Mpumalanga en Gauteng. Plaaslike rampbestuursentrums is steeds op 'n hoë gereedheidsgrondslag terwyl nog koue, nat en winderige toestande, sowel as sneeu op plekke verwag word, wat weer padsluitings en ontwrigtings tot gevolg kan hê. Die regering se adjunkwoordvoerder, William Baloyi sê 'n plan sal in werking gestel word sodra spanne geïdentifiseer het watter bystand gemeenskappe nodig het.

Die Oos-Kaapse departement van Vervoer sê meeste bergpasse in die provinsie wat weens sneeu gesluit was, is nou heropen. 'n Woordvoerder, Unathi Binqose sê paaie is egter steeds nat en glad en temperature bly baie laag, wat beteken dat toestand vinnig kan verander. Hy sê daar is ook swak sigbaarheid op die Penhoekpas op die N6 tussen Komani en James Calata, weens mis en motreën. Motoriste word gevra om baie versigtig te wees.

Die ouers van leerlinge van die hoërskool Welkom en die tegniese hoërskool Welkom in die Vrystaat beplan vandag 'n optog na die plaaslike distrikskantoor van die departement van Onderwys om 'n griefskrif te oorhandig. Die ouers beweer dat die twee skole reeds twee jaar lank sonder skoolbeheerliggame funksioneer. Hulle beweer ook dat die skoolhoofde van die twee skole die enigste gemagtigde ondertekenaars vir banktransaksies is, wat nie deur die Wet op Openbare Finansiële Bestuur toegelaat word nie. Hulle eis dat die skoolhoofde van albei skole bedank. Hulle dreig om onderrig by die skole te ontwrig indien daar nie aan hulle eise voldoen word nie.

Amptenare in Oekraïne sê minstens ses mense is dood en 20 gewond in Rusiese aanvalle op die suidoostelike stad, Zaporizjzjia. Volgens die streeksgoewerneur, Ivan Fedorov is die stad met missiele en bomme aangeval. Minstens een persoon is ook in die hoofstad, Kiëf beseer, waar pakhuise in 'n sentrale distrik vermoedelik geteiken is. Owerhede in ander dele van Oekraïne sê nog ses mense is oornag dood en 16 gewond in aanvalle in Dnipro-petrovsk en Donetsk. In Rusland se Voronezh-streek is een persoon volgens berigte dood en twee beseer, terwyl 'n brand ook aangemeld is by 'n pakhuis van die aanlyn kleinhandelaar, Wildberries.

Deel nou