Skip to content

Nuusbulletins

Die getuienisleier van die Madlanga-kommissie, Matthew Chaskalson, het gevra dat die getuienis van die parlementslid en leier van die National Coloured Congress, Fadiel Adams, tot 19 Augustus uitgestel word. Adams is gedagvaar om vandag voor die kommissie te verskyn, maar hy het sy beëdigde verklaring eers laat gisteraand ingedien. Die kommissie het vroeër aangedui dat getuienisleiers meer tyd nodig het om die dokumente te bestudeer en met Adams te konsulteer. Volgens Chaskalson is hulle al sedert Oktober verlede jaar in gesprek met Adams oor sy verklaring en getuienis. Adams word in getuienis voor die kommissie verbind met 'n Artikel 27-beëdigde verklaring wat gelei het tot die inhegtenisneming van sewe Misdaadintelligensie-beamptes.

Die polisie sê 14 vermeende onwettige mynwerkers is by Nkaneng naby Rustenburg in Noordwes dood. Die liggame is in 'n verlate mynskag gevind, maar dit is nog nie duidelik hoe hulle dood is nie. Die provinsiale polisieleierskap is onderweg na die toneel om die sterftes te ondersoek.

Die Suid-Afrikaanse Rooikruisvereniging in die Vrystaat sê hy is tans besig om bestek te neem van die skade wat deur sterk wind in Koppies aangerig is. Verskeie huise is beskadig en dakke is afgewaai te midde van gure weerstoestande. Die Rooikruis se provinsiale bestuurder, Claudia Mini, sê hulle sal humanitêre hulp verleen aan huishoudings wat geraak word nadat die evaluering afgehandel is. Sy sê die aanhoudende reën maak dit moeilik vir die evalueringspanne om toegang tot sekere gebiede te kry. Mini sê die finale skadeberaming sal deur die Rooikruis en die Ngwathe-rampsentrum voltooi en bevestig word. Mini sê daar is ook skade aangerig by Gariep, Edenburg en Thabo Mufutsanyana, waar vrywilligers bystand verskaf.

Die ouers van leerlinge van die hoërskool Welkom en die tegniese hoërskool Welkom in die Vrystaat beplan vandag 'n optog na die plaaslike distrikskantoor van die departement van Onderwys om 'n griefskrif te oorhandig. Die ouers beweer dat die twee skole reeds twee jaar lank sonder skoolbeheerliggame funksioneer. Hulle beweer ook dat die skoolhoofde van die twee skole die enigste gemagtigde ondertekenaars vir banktransaksies is, wat nie deur die Wet op Openbare Finansiële Bestuur toegelaat word nie. Hulle eis dat die skoolhoofde van albei skole bedank. Hulle dreig om onderrig by die skole te ontwrig indien daar nie aan hulle eise voldoen word nie.

Amptenare in Oekraïne sê minstens ses mense is dood en 20 gewond in Rusiese aanvalle op die suidoostelike stad, Zaporizjzjia. Volgens die streeksgoewerneur, Ivan Fedorov is die stad met missiele en bomme aangeval. Minstens een persoon is ook in die hoofstad, Kiëf beseer, waar pakhuise in 'n sentrale distrik vermoedelik geteiken is. Owerhede in ander dele van Oekraïne sê nog ses mense is oornag dood en 16 gewond in aanvalle in Dnipro-petrovsk en Donetsk. In Rusland se Voronezh-streek is een persoon volgens berigte dood en twee beseer, terwyl 'n brand ook aangemeld is by 'n pakhuis van die aanlyn kleinhandelaar, Wildberries.

Deel nou