Die polisie in Noordwes sê 14 onwettige myners is weens 'n rotsstorting in Nkaneng naby Rustenburg dood, en agt is gehospitaliseer. Die rotsstorting het gisteraand in 'n verlate mynskag op 'n perseel van die maatskappy Sibanye plaasgevind. 'n Polisiewoordvoerder, Adele Myburgh sê 'n onbekende aantal myners is moontlik nog ondergronds vasgekeer.
Werkloosheid in Suid-Afrika het in die tweede kwartaal van die jaar met nul komma 9 persentasiepunte gestyg. Dit staan nou op 33 komma ses persent teenoor die 32 komma sewe persent die vorige kwartaal.
Die voorsitter van die Madlanga-kommissie, regter Mbuyiseli Madlanga het die parlementslid Fadiel Adams daarvan beskuldig dat hy die kommissie se tyd mors. Adams is gedagvaar om vandag voor die kommissie te verskyn, maar die getuienisleiers het gevra dat sy getuienis tot 19 Augustus uitgestel moet word, omdat sy beëdigde verklaring eers laat gisteraand ingedien is. Hy het probleme met sy skootrekenaar die skuld gegee vir die laat indiening van sy verklaring. Madlanga het aan Adams gesê dat hy nie sy verduideliking glo nie, en het hom daarvan beskuldig dat hy nie die kommissie ernstig opneem nie. Die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie, Idac se staatsadvokaat, Drushanta Ramsamy, het intussen haar getuienis hervat.
Die polisie het rubberkoeëls en skokgranate gebruik om betogende studente van die Universiteit van Fort Hare in Alice in die Oos-Kaap uiteen te jaag. Die studente het sedert vroeg vanoggend die R61 versper en verkeer ontwrig. Hulle eis dat die universiteit herstelwerk aan koshuise doen. Volgens die studente leef hulle in onmenslike toestande.
Reddingswerkers in die weste van Colombia poog steeds om mense te bereik wat vasgekeer is in die puin van tientalle geboue wat na gister se aardbewing in duie gestort het. Die aardbewing van sewe-komma-vier het groot skade in die stede Pereira en Cali aangerig. Die dodetal het intussen tot minstens 164 gestyg terwyl sowat 188 mense vermis word.