Skip to content

Nuusbulletins

Die voormalige nasionale hoof van die Valke, Godfrey Lebeya is by die Madlanga-kommissie uitgevra oor sy bande met die vermeende polisie-informant, Malcolm X. Lebeya getuig oor die polisie-operasie by die huis van die moordbeskuldigde, Katiso "KT" Molefe in Desember 2024. Hy sê Malcolm X het tydens die operasie in 'n telefoongesprek vir hom gesê dat daar mans by Molefe se huis is wat voorgee dat hulle Valke-beamptes is.

Die Nasionale Taxi-allianse sê die jongste styging in brandstofpryse is 'n groot terugslag vir die taxibedryf. Dieselpryse het om middernag met tussen twee rand-93 en drie rand-14 sent per liter gestyg, en petrol met een rand-34 sent. 'n Woordvoerder van die NTA, Theo Malele sê leiers in die bedryf sal nou moet vergader om te besluit oor 'n verhoging in tariewe. Hy sê die hoër brandstofpryse lei tot groot verliese vir taxi-operateurs, maar indien tariewe te skerp opgestoot word, is daar 'n gevaar dat taxi's nog passasiers kan verloor. Die NTA het 'n beroep op die regering gedoen om meer te doen om die taxibedryf by te staan.

'n Mozambiekse taxi-eienaar verskyn vandag in die Nelspruit-landdroshof in Mpumalanga in verband met die dood van 'n verkeersbeampte vroeg Maandagoggend. Die beampte, Kgaugelo Moela is deur 'n voertuig getref terwyl hy aan diens was langs die N4-tolpad by Alkmaar, buite Mbombela. Die bestuurder van die minibus het van die toneel gevlug, maar is later in hegtenis geneem terwyl hy probeer het om per taxi na Mozambiek te reis.

Die premier van Limpopo, Phophi Ramathuba gaan vandag veranderinge aan haar provinsiale uitvoerende raad bekend maak. Twee provinsiale ANC-amptenare, Eddie Maila en Pule Shai, sal as lede van provinsiale wetgewer en LUR'e ingehuldig word. Die twee is tans die ANC se provinsiale tesourier en ajdunk-provinsiale sekretaris. Shai sal na verwagting LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake word, en Maila LUR vir Vervoer. Daar word verwag dat die huidige LUR vir Sport, Kuns en Kultuur, Jerry Masekoa en die LUR Vir Vervoer en Gemeenskapsveiligheid, Susani Mathye verwyder gaan word.

Die Russiese president, Wladimir Poetin het Duitsland daarvan beskuldig dat hy bewyse geplant het om Rusland die skuld te gee vir 'n hommeltuigaanval by 'n lughawe in Leipzig. 'n Hommeltuig met 'n ploftoestel is op 4 Augustus by die lughawe gevind, naby Oekraïense vragvliegtuie, maar het vermoedelik weens 'n tegniese probleem nie ontplof nie. Ondersoekers vermoed dat 'n tweede hommeltuig in dieselfde gebied teen 'n vragvliegtuig gebots het, terwyl 'n derde hommeltuig tien dae later naby die lughawe gevind is. Volgens Duitse owerhede dui die toerusting wat gebruik is, sowel as intelligensie op Russiese betrokkenheid by die aanval. Duitsland het in reaksie aangekondig dat die Russiese konsulaat in Bonn, sowel as 'n kulturele sentrum in Berlyn, gesluit sal word. Duitsland is een van verskeie Navo-lidlande in Europa wat die afgelope jaar hommeltuie by lughawens, sowel as militêre en nywerheidspersele aangemeld het.

Tennis: Die topgekeurde Alexander Zverev moes swoeg om deur te dring na die tweede ronde van die Amerikaanse Ope-tennistoernooi in New York. Die Duitser het die Italianer, Lorenzo Sonego, in vyf stelle geklop. Die telling was 6-4, 3-6, 6-7, 7-5 en 6-4. Nog 'n Italianer, Lorenzo Musetti, is ook deur na die tweede ronde, na 'n oorwinning in skoon stelle oor die Brit, Arthur Fery. In die vroue-enkelspel, het die tweede gekeurde Elena Rybakina van Kasakstan, die Amerikaner Thea Frodin 6-3 en 6-2 gewen. Haar landgenoot, Yulia Putintseva, het vir 'n opskudding gesorg deur die twaalfde gekeurde Belinda Bencic van Switserland, in drie stelle uit te skakel.

Deel nou