Skip to content

Nuusbulletins

Die vakbondfederasie Cosatu se 15de nasionale kongres kon nie vanoggend op die vasgestelde tyd begin nie weens 'n dooiepunt oor die skorsing van sy eerste adjunk-president, Mike Shingange. Verskeie vakbonde wat by Cosatu geaffilieer is, insluitend die mynwerkersvakbond, die N-U-M, het die skorsing teengestaan en geweier om hulle lyste van afgevaardigdes in te dien. Die lyste is nodig om te bepaal of 'n kworum teenwoordig is sodat die kongres kan begin. Shingange - wat ook die president is van vakbond Nehawu - is vroeër geskors nadat hy die dokument met die benoemings vir Cosatu se nuwe leierskap onderteken het, wat strydig was met Nehawu se opdrag.

President Cyril Ramahosa het die Spesiale Ondersoekeenheid gemagtig om bewerings van korrupsie, wanbestuur en onreëlmatige uitgawes by North West Transport Investments te ondersoek. Die ondersoek sal kontrakte dek vir brandstof, die huur van voertuie en busdienste sowel as bewerings wat maatskappye insluit van die Noordwes-sakeman, Sulliman Carim. Die SOE se ondersoek na sekuriteit en BBP-beskermingsdienste by die eThekwini Munisipaliteit is ook uitgebrei om verskeie bykomende kontrakte in te sluit. Die SOE-woordvoerder, Selby Makgotho sê alle bewyse van misdadige optrede sal na die Nasionale Vervolgingsgesag verwys word.

Die polisie het bevestig dat die liggaam van die vermoorde vrou wat die naweek in Kempton Park aan die Oos-Rand gevind is dié is van die drawwer Elizabeth Moselakgomo. Haar liggaam was die vierde een wat die afgelope tyd in die Ekurhuleni Metro-gebied ontdek is. Moselakgomo is verlede week as vermis aangemeld toe sy nie by die huis opgedaag het nadat sy gaan draf het nie. Intussen fynkam forensiese kenners tans die toneel in Olifantsfontein waar 'n vyfde liggaam vanoggend ontdek is. Die ander drie liggame is die afgelope twee maande langs die R21 gekry.

Intussen het die polisie 'n ernstige waarskuwing uitgereik oor aanlyn-ontmoetingsplatforms in die Kempton Park-gebied wat hulle vermoed in sommige gevalle lei tot roof en ook aanranding.

Die polisie het met 'n soektog begin na 'n verdagte in die moord op 'n 19-jarige leerling wat vanoggend by 'n skool in KwaNdengezi in Durban doodgeskiet is. Die slagoffer is blykbaar saam met die verdagte op die skoolterrein gesien voordat verskeie skote op hom geskiet is. Die polisie sê die verdagte, wat 'n skooluniform aangehad het, het daarna gevlug. Die slagoffer is op die toneel dood verklaar.

Sewe werknemers van die Emfuleni-munisipaliteit wat in hegtenis geneem is in verband met onwettige elektrisiteits-aansluitings is in die Vanderbijlpark-landdroshof vrygelaat op borgtog van 20-duisend rand elk. Hulle staan tereg op verskeie aanklagte insluitend bedrog en geldwassery én dat hulle het noodsaaklike infrastruktuur gepeuter het. Die sewe het na bewering geld gevra om kragverbindings onwettig aan te sluit van kliënte wat deur die munisipaliteit afgesny is weens wanbetaling. Die agste verdagte, Janitha van Reenen Cotzee wat na bewering die meestersbrein agter die bedrogspul is, se borgtogaansoek sal later vandag aangehoor word.

Die Europese Unie se hoof van buitelandse beleid, Kaja Kallas sê Rusland se aanval op 'n Oekraïense trein naby die grens van Pole was daarop gemik om Westerse lande af te skrik wat Oekraïene ondersteun. Die trein is aangeval kort nadat 'n ander trein met senior Europese amptenare insluitend die gewese Britse eerste minister, Boris Johnson deur dieselfde stasie beweeg het. Finland se eerste minister, Petteri Orpo het ook die voorval veroordeel. Geen ongevalle is na die aanval aangemeld nie.

Deel nou